Let wel dat die term "in Christus" in hierdie kort studie in die breë verwys na meer as net ons regsposisie. Dit sluit ons hele lewe "in, deur en vanuit Hom" in. Johannes 14 vers 20 som dit mooi op:
"In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle."
MITE 1: Die idee dat die term ‘in Christus’ in die briewe van die Nuwe Testament net verwys na 'n simboliese eenheid tussen gelowiges en Christus en nie 'n werklike eenheid nie.
DIE WAARHEID: Hierdie siening lei tot geweldige verarming en skade en is vêr verwyder van die prentjie in die Nuwe Testament. Ons eenheid met Christus is eerstens voorbeskik deur die Vader (Efes. 1:4), tweedens is dit 'n regsposisie (legal position) en dan is dit ten diepste 'n eenheid van gees (1 Kor. 6:17) wat beteken dat daar nie 'n meer intieme eenheid moontlik is nie.
MITE 2: Aan die ander kant die idee dat ons eenheid met Christus beteken dat ons so vervleg word met Christus dat ons nie meer 'n persoonlikheid van ons eie het nie.
DIE WAARHEID: Die gelowige verloor nooit in hierdie eenheid met Christus sy eie unieke persoonlikheid nie. Wat wel gebeur is dat die bron en kern van die gelowige se lewe nie meer die ‘self-vir-self’ (self in die middel) is nie, maar die ‘Christus-in-en-deur-die-self’ (Christus in die middel) lewe - Galasiërs 2:20.
MITE 3: Die ‘in Christus’ benadering tot die Christelike lewe is maar net een van die moontlike benaderings in die Nuwe Testament wat ons kan volg om God te behaag.
DIE WAARHEID: Daar is geen plaasvervanger vir die leer van ons eenheid met Christus nie. Dit is die enigste manier wat God verhouding beskikbaar maak in die Bybel. Indien jy nie by 'n openbaring en ervaring van hierdie waarheid uitkom nie sal jy ook nooit volwassenheid as 'n gelowige bereik nie.
MITE 4: Die ‘in Christus’ waarheid is maar een van die sleutels wat ons help om die Skrif te verstaan.
DIE WAARHEID: Die ‘in Christus’ waarheid (in die breër raamwerk van die pre-eminensie van Christus) is dié sleutel wat die Skrif ontsluit en God se doel met die mens duidelik maak (sien Efes. 1:3-14). Dit is verder ook die waarheid wat lig werp op al die ander leringe in die Skrif. As jy nie seker is oor hierdie stelling nie gaan spandeer 'n bietjie tyd met Jesus se verstommende lering in Johannes 13 tot 17 en let op die kernpunte wat Hy vir ons as sy dissipels wil deurgee.
MITE 5: Ons eenheid met Christus is nie 'n seker/vaste stand (a sure standing) nie, maar dit is iets wat wissel soos wat ons geloof en gehoorsaamheid wissel.
DIE
WAARHEID: Ons eenheid met Christus is
ononderbroke en geensins wisselvallig nie.
Dit is ‘n eenheid wat deur die Vader bewerkstellig is en deur Hom
gewaarborg en beskerm word (1 Kor. 1:30).
Ons ervaring daarvan is wel afhanklik van ons fokus (Kol. 3:1-3).
No comments:
Post a Comment