"En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom." Mattheüs 24:14
In Mattheüs sien
ons die outoriteit van die Koning, in Markus Sy diensbaarheid, in Lukas Sy volmaakte
mensheid en in Johannes Sy verborge lewe in die "boesem van die
Vader" wat manifesteer in 'n onoorwinlike heerskappy van Goddelike liefde
op aarde. In Handelinge sien ons al vier
kenmerke van die Koning se lewe sigbaar in Sy dissipels en in heerskappy ten
spyte van opposisie.
Romeine openbaar
dat die geregtigheid wat God behaag net in die Koning te vinde is. 1
Korinthiërs wys vir ons dat Sy lewe in ons alle probleme in gemeentes kan
oorkom. In 2 Korinthiërs is bedienaars van die evangelie, ten spyte van
baie lyding, gewaarborg dat die koninkryk van God uiteindelik sal triomfeer oor
alle teenstand. In Galasiërs heers die geregtigheid
van die koninkryk oor wettisisme en in Efesiërs word ons herinner dat ons as
liggaam van Christus die volheid is van die Koning wat "alles in almal
vervul". In Filippense is ons blydskap
oor die lewe van die Koning in ons die sleutel tot 'n diensbare en oorwinnende
wandel tot op die einde van ons lewenspad.
In Kolossense heers die pre-eminensie van die Koning oor sinkretisme,
asketisme en mistisisme en word ons opgeroep om met hart en siel en wese te
fokus op ons heerskappy saam met Hom in die hemele (3:1-3) sodat ons op aarde 'n
heilige lewe kan lei.
In 1 en 2
Thessalonicense is ons visie op die terugkeer van die Koning in volle
heerlikheid die sleutel tot 'n oorwinnende koninkrykslewe in die hede. In 1 en 2 Timotheüs en Titus sien ons dat die
liefdesheerskappy van die Koning in 'n "rein hart, 'n goeie gewete en
ongeveinsde geloof" (1 Tim. 1:5) altyd sal lei tot 'n ordelike, geseënde
en vrugbare bediening en gemeentelewe. In
Filémon sien ons dat barmhartigheid, genade en vergifnis in Christus die basis
is van gesonde verhoudings in die koninkryk en dat dit ongekende heerlikheid en
blydskap kan bring te spyte van groot foute en sondes.
Hebreërs openbaar
weereens die pre-eminensie van die Koning en Sy Nuwe Verbond en roep ons op om
nuut te dink oor alles in die lig van die finale woord van God in die Seun
(1:1-2). Jakobus daag ons uit om 'n egte
geloof te hê en nie toe te laat dat enige area van ons lewens onaangeraak bly
deur die heerskappy van die Koning nie.
1 Petrus leer ons dat die koninkrykslewe in die hier-en-nou baie
vervolging en lyding insluit, maar dat ons bemoedig moet word deur die feit dat
ons Koning se oorwinning in Sý nederige lewe op aarde oor die opposisie van
godsdiens en bose mense ook ons oorwinning kan wees in die hede.
2 Petrus en die
boek Judas leer ons dat baie valse leraars en leringe die Koning en sy
koninkryk aanvat, maar dat ons oor dit alles kan heers as ons sterk staan in
die suiwer boodskap van die evangelie van die koninkryk. Die drie briewe van Johannes wys ons dat die lewe,
lig en liefde van die Koning in ons onderskei moet word van alle alternatiewe
filosofieë en leringe wat kwansuis dieselfde kwaliteite produseer. En laastens sien ons in die boek Openbaring
dat die Lam op die Troon ten spyte van geweldige teenstand van vyande van die
kruis steeds heers in die hier-en-nou van ons lewens en dat al Sy vyande goed
moet besef dat Hy reg staan om alle rebellie teen Sy heerskappy te verpletter
onder Sy voete.
"Waarom
woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?" Psalms 2:1
"Dan
sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik:
Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg." Psalms 2:5-6
"Wees
dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien
die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word
en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig
is almal wat by Hom skuil!" Psalms 2:10-12