"...Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!" Lukas 22:42
Wat Bybelse liefde
so kragtig maak, is dat dit die wil van die mens oorwin het. Dit is juis die probleem met die wêreld se
idee van liefde. Dit laat jou wil ongedeerd.
Enige idee van
liefde wat jou wil onaangeraak laat, sodat jy dit kan aanhou gebruik vir die
afgodery van jou hart, is nie die liefde waarvan die Bybel praat nie!
Die openbaring van
die kruis is bedoel om nie net ons denke en ons emosies te raak nie, maar ten
diepste ons wil. Dit elimineer as't ware
die vesting van ons wil en maak ons sodoende gewillig om God se wil met
blydskap ons eie te maak.
Dit is dan ook die
fatale swakheid van wettisisme.
Wettisisme probeer die wil bekamp en reglementeer met reëls en
regulasies. Maar genade is anders. Genade oorwin die wil!
Die hele Nuwe
Testament wys vir ons in soveel verskillende gevalle en op soveel verskillende
maniere hoe die openbaring van die kruis 'n onoorwinbare liefde in mense laat
opstaan wat geheel en al anders is as die wêreld se idee van liefde. 'n Liefde wat opereer vanuit die wil van God,
waar die stryd tussen my wil en Syne gewonne is. Hy het my oorwin! Wat 'n salige toestand.
"Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat
Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was." Romeine 5:8
"Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my
lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan
volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te
getuig vir die evangelie van die genade van God." Handelinge 20:24
Hierdie Bybelse onderskeid
tussen die liefde van die wêreld en van godsdiens en die liefde wat die openbaring
van genade in ons laat opstaan is dringend belangrik vir die effektiewe verspreiding
van die evangelie in ons tyd.
As mense in die wêreld
(en in die kerk!) nie verstaan wat Bybelse liefde so anders maak nie, sal hulle
aanhou om hulle idees van liefde in een smeltpot te gooi saam met die evangelie
en dit sodoende te beroof van sy essensiële krag.
Wat die evangelie
so anders maak, is juis dat dit die enigste boodskap op aarde is wat die wil
van die mens kan oorwin. Dit is hoekom
Alexander Maclaren gesê het:
“Love is the only fire that is hot enough to melt the
iron obstinacy of a creature's will”
No comments:
Post a Comment