Die evangelie is nie morele hervorming nie. Dit is die koninkryksboodskap wat alleen in staat is om 'n selfsugtige hart te oorwin en te verander. In hierdie radikale koninkryk waar die Koning van die konings heers, is daar geen plek vir ons eie idees of vindingrykheid nie.
Daarom is dit absoluut noodsaaklik dat ons op die skerp kant van die evangelie sal bly. Die alternatief is altyd dat ons terugval in morele hervorming. Morele hervorming vir 'n Christen is "om 'n goeie lewe vir Jesus te probeer lei". In die lig van die evangelieboodskap is daar niks meer pateties as dit nie.
Die aardskuddende openbaring van die evangelie van die koninkryk m.b.t. ons eksistensiële werklikheid is dat ons onsself in 'n wêreld bevind waar niks is soos dit op die oog af blyk te wees nie. Dit is 'n wêreld van illusies. Sielkundig word ons voortdurend in hierdie maalstroom van goed en kwaad ingetrek en word ons verlei om 'n immer-ontwykende "volkomenheid" te bereik deur morele hervorming. Dit is die groot versoeking wat in die tuin van Eden begin het.
Die boom van die lewe is radikaal anders. Dit is 'n uitnodiging om te leef volgens die standaarde en krag van 'n ander lewe, die lewe van God self in die Seun (Gal. 2:20). Hierdie lewe is teen die hoogste prys denkbaar vir ons beskikbaar gestel en daarom moet die radikale aard daarvan ten alle koste erken en toegeëien word. Om dit met morele hervorming te verwar is die grootste belediging moontlik en die gevaarlikste koers wat 'n mens kan inslaan.
Op die morele hervormingsbaan bly ons in
beheer en besluit ons hoe ons sal leef en wat die beperkings en grense van ons
toewyding is. Op die smal pad van die koninkryk is God in beheer en Hy lei ons
verowerde harte waar Hý ookal wil. Daar is geen ander manier om die radikale
dissipelskapterme wat deur Jesus in die evangelies neergelê word, te verstaan en te interpreteer nie. Dit is terme van dood-en-opstanding, nie 'n verheerlikte
morele reformasie program nie!
"En
hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot
‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom." Mattheüs 24:14
No comments:
Post a Comment