Thursday 17 October 2024

DIE HART VAN DISSIPELSKAP IS HERDERSKAP

Herderskap is een van die mees diepgaande Bybelse beelde wat gebruik word om die plig van dissipels in die omgee vir ander te beskryf. Van die begin van die Skrif openbaar God Sy verwagting dat Sy mense verantwoordelikheid vir mekaar moet neem, deur diegene wat aan hulle sorg toevertrou is, te lei, te beskerm en te koester.

In Genesis 4 vers 9, nadat Kain Abel doodgemaak het, het God vir Kain gevra: "Waar is jou broer Abel?" Alhoewel Kain met 'n uitdagende vraag geantwoord het - "Is ek my broer se wagter?" - weerspieël hierdie gedeelte 'n dieper waarheid. God se ondersoek was nie bloot 'n vraag na inligting nie; dit was 'n verwagting van aanspreeklikheid. Kain, as die ouer broer, is implisiet geroep om vir Abel te sorg. Sy versuim om dit te doen verteenwoordig 'n verwerping van die verantwoordelikheid om 'n herder vir sy  broer te wees. Selfs so vroeg in die mensegeskiedenis wys God vir ons dat ons bedoel is om ons broers se bewakers te wees—om vir mekaar te sorg, oor mekaar te waak en mekaar se harte gedurig in God se genade in te lei.

Die tema van herderskap bereik sy volheid in die lewe en bediening van Jesus, wat die Goeie Herder is (Joh. 10:11). Toe Hy die einde van Sy aardse bediening nader, het Jesus die belangrikheid van herderskap vir Petrus in Johannes 21:15-17 beklemtoon. Na Sy opstanding het Jesus vir Petrus drie keer gevra: "Het jy My lief?" En na elke bevestiging van liefde het Jesus vir Petrus 'n direkte opdrag gegee: "Laat my lammers wei," "Pas my skape op," en "Laat my skape wei." Hierdie woorde het duidelik die rol van dissipelskap as een van herderskap gevestig – die versorging van die kudde gelowiges met dieselfde teerheid, beskerming en leiding wat 'n herder aan sy skape bied. Petrus is nie net met 'n taak toevertrou nie, maar met die geestelike welsyn van die gemeenskap van gelowiges.

Jare later, in 1 Petrus 5:2-4, vermaan Petrus die ouderlinge van die gemeente om as herders  “toesig te hou oor die kudde van God" en dit "nie uit dwang nie, maar gewilliglik". Hier beklemtoon Petrus dat leiers gewilliglik vir gemeentelede moet sorg, nie vir persoonlike gewin nie, maar uit liefde en gehoorsaamheid aan God. Hierdie opdragte van Petrus strook met die hart van ware dissipelskap – om saam met ander te wandel in hul geestelike groei en hulle te help om Christus werklik te ken en te volg.

In Esegiël 34 bestraf God die valse herders van Israel vir hulle verwaarlosing van die volk. In plaas daarvan om die kudde te voed, het hulle hulself gevoed en die skape toegelaat om verstrooi te word. God se misnoeë met hierdie leiers weerspieël Sy diepe besorgdheid oor Sy mense se geestelike gesondheid. Herderskap vereis aandag, opoffering en 'n hart wat die sorg en deernis van Christus, die Opperherder, weerspieël.

Uiteindelik herinner die beeld van herderskap ons dat dissipelskap nie oor mag of beheer gaan nie, maar oor liefde, sorg en leiding. Net soos Jesus Sy lewe vir Sy skape gegee het, word ons geroep om ons lewens uit te stort in diens aan ander, om hulle in 'n dieper verhouding met Christus te lei. Wanneer ons begin om weg te kyk van onsself en werklik besorg te wees oor ander dissipels se geestelike welsyn, vervul ons God se oproep om ons "broer se wagter" te wees, en toon ons dieselfde sorg as wat God vir Sy mense deur die hele Skrif openbaar.

Herderskap is 'n sentrale tema in die Bybel se benadering tot dissipelskap. Van God se oproep aan Kain om vir sy broer te sorg, tot Jesus se opdragte aan Petrus in Johannes 21, en die apostoliese instruksies aan die vroeë kerk, is die rol van herderskap van ander krities belangrik. Dit behels liefde, opoffering, beskerming en leiding van ander tot geestelike volwassenheid in Christus. As ons werklik begin verantwoordelikheid neem vir mekaar se harte en lewens as dissipels, neem ons deel aan Sy ewige doel om 'n getroue en groeiende gemeenskap in Christus te vestig tot uitbreiding van Sy koninkryk en seën van baie ander soos wat hierdie kosbare herderlike liefde organies begin uitkring deur verhoudinge en families.

 

Tuesday 11 June 2024

WANNEER DIE VERSTOPTE FONTEINE WEER OOPGAAN

Paulus sê in Kolossense 3 vers 16 dat die Woord van Christus ryklik in ons harte moet woon en verder dat ons mekaar moet leer en vermaan uit die oorvloed van daardie Woord in ons harte.

Hierdie opdragte is bedoel vir alle dissipels van Jesus, nie net vir pastore of predikers nie.  Kom ons kyk na 'n paar skrifgedeeltes in Handelinge om 'n idee te vorm van die onbeperkte dinamika van die Woord van Christus in daardie vroeë dissipels.

"En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof."  Handelinge 6:7

"Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer. En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig." Handelinge 8:3-4

Selfs nie vervolging kon hierdie eerste dissipels weerhou daarvan om met blydskap die Woord van Christus te spreek en verkondig nie.

"Maar die woord van God het gegroei en toegeneem." Handelinge 12:24

Die Nuwe Testament maak dit baie duidelik dat die Woord van God bedoel is om 'n dinamiese krag te wees in die hart, mond en lewe van elke gelowige en nie net in predikers, ouderlinge en professore van teologie nie.

Ons sien in hierdie tekste uit die boek Handelinge dat die Woord van God kragtig gegroei en toegeneem het. Dit is verder baie duidelik dat die Woord waarvan gepraat word, in die harte van mense gegroei het en nie in 'n vakuum nie. Waar staan ons  vandag m.b.t. hierdie krities belangrik aspek van gemeentelewe? As ons nie 'n opstanding van die Woord in die harte van individuele gelowiges sien nie, sal ons nooit die dinamiese en opwindende gemeentelewe ervaar wat God nog altyd vir ons in gedagte gehad het nie.

Maar wat het ons met die Woord gedoen?

• ons het dit die byna eksklusiewe domein van professionele mense gemaak; pastore, predikers en Bybelskool professore

• ons het dit vernou tot die milieu van die verstand; slegs vir onderrig of verdediging van die geloof, om geskille te wen met ander gelowiges wat anders glo of om in Bybelkursusse en Bybelstudies gebruik te word

• ons gebruik dit in dissipelskapkursusse vir beperkte tye van spesiale onderrig vir geselekteerde groepe

• ons het die gebruik en genot daarvan byna uitsluitlik tot ons persoonlike stiltetye en tot die stiltetye in ons gesinne beperk

Ja, die Bybel bevat wel teologie, dit is bedoel om valse leerstellings te weerlê, dit moet bestudeer en gebruik word in Bybelskole en dissipelskapkursusse, maar die Bybel is ook meer as dit. Die dinge hierbo genoem is 'n goeie begin en dalk is die meeste daarvan, tot ons skande, nie eers meer 'n werklikheid in baie gemeentes vandag nie, maar selfs al is dit sentraal in die bogenoemde kan dit nie net daar bly nie. 

 

Die Bybel is by uitstek bedoel vir die hart. Dit moet geniet word soos ons 'n goeie ete geniet en dit met mekaar deel. Die Bybel is die openbaring van Christus en dit is bedoel om ons tot so 'n mate te besiel dat ons dit spontaan met mekaar begin deel, nie omdat ons moet of omdat dit die Christelike ding is om te doen nie, maar omdat ons 'n innerlike drang het om te spreek oor dit wat vir ons kosbaar en lewegewend is.

 

Friday 7 June 2024

EEN LEERMEESTER, EEN VADER, EN EEN LEIER IN DIE GEMEENTE VAN GOD

Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.” Mattheüs 23:8-10 (NAV)

 Hierdie verse is vir seker nie onder die gunsteling gedeeltes van die Bybel vir die voorstanders van georganiseerde godsdiens nie. Boonop vind die institusionele kerk ook allerlei maniere om die impak van Jesus se opdragte hier op slinkse wyses te omseil sodat die mag en beheer in mensehande kan bly.

 Ja, daar is leraars (Efes. 4:11), geestelike vaders (1 Kor. 4:15) en leiers (Rom. 12:8) in die gemeente van God. Ware leraars lei egter altyd dissipels na die Een leermeester en Sy kosbare innerlike lering. Ware geestelike vaders vind vreugde daarin om die kinders van God se harte te voed en verbly deur op die Een Vader van ons almal te fokus (Efes. 4:6). Ware leiers wys voortdurend vir dissipels uit dat Jesus alleen die “Leidsman en Voleinder” van ons geloof is (Heb. 12:2).

 Enigiemand wat die Woord van God werklik respekteer en buig onder die Goddelike gesag daarin vervat, sal sonder baie moeite kan sien dat die godsdienstige titels van die institusionele kerk geen plek het in die gemeente van God nie en dat die sieklike fokus op geld, geboue en getalle saam met al die titels en die gewaande status sonder seremonie by die agterdeur uitgeboender kan word. 

 Daar is nie ‘n baba in daai badwater nie. Gooi dit maar alles uit en wees bereid om sonder frille en voorbehoude net ‘n lid te wees van die eenvoudige, organiese gemeente wat onderhou en gebou word deur Een leraar, Een Vader en Een leier.

Wednesday 22 May 2024

KEER TERUG NA DIE RYKDOM VAN DIE EENVOUD IN CHRISTUS

Daar is geweldig baie verwarring vandag in die kerk oor ‘n legio leerstellings.  Dissipels van Jesus het toegang tot soveel verskillende leringe deur die multimedia.  Hoe moet ons dan onsself posisioneer in al hierdie verwarring?


Satan sal alles in sy vermoë doen om die klem weg te neem van Jesus af en dit op “goeie” dinge te plaas, maar dinge wat ons weglei van God se meesterplan.  "Winde van lering" is nie noodwendig net ooglopend valse leringe nie (Efesiërs 4:14).

“Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.” 2 Korinthiërs 11:3  

Die grootste fout wat ‘n dissipel of ‘n gemeente ooit kan maak is om Jesus as vanselfsprekend te aanvaar.  Laat ek verduidelik wat ek bedoel.  Jesus plus niks is gelyk aan alles, maar Jesus plus enigiets is gelyk aan niks!  Alles wat die Vader ooit vir ons wou gee is in sy Seun.  In Hom alleen het ons die volheid (Kolossense 2:10).  In Hom alleen vind ons totale vervulling.  Die oomblik wat ons dink daar is iets ekstra wat ons kan byvoeg om ons lewe as dissipels meer volkome te maak, val ons in die strik van die satan en verloor ons die belewenis van die volheid wat ons in Jesus het.  

Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” Hebreërs 1:1

God het finaal gespreek in sy Seun.  Dit is so maklik om vas te val in ‘n patroon van denke wat aanneem dat die boodskap oor Jesus en die inhoud van evangelie net die begin is, maar dat ons dan moet voortgaan na ander en dieper dinge.  Dit is ‘n verwoestende aanname.  Alles wat in die Nuwe Testament geskryf is oor die ervaring en heerlikheid van dissipels en gemeentes word slegs gevind in die meer en meer intieme ken van Jesus in sy volheid en majesteit.  

Die Heilige Gees se primêre bediening is om Jesus te openbaar as ons alles (Johannes 16:14)!  Vervulling met die Gees is gelykstaande aan die belewenis van die Seun in die rykdom van Sy heerlikheid soos geopenbaar in die evangelie . Vergelyk Efesiërs 5 verse 18-19 en Kolossense 3 vers 16.

“Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde." 1 Korinthiërs 2:2

"Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” 1 Korinthiërs 2:12

Let op hoe Paulus in hierdie gedeelte die rykdom van alles wat God ons geskenk het verbind met Jesus.  

Monday 20 May 2024

DIE GEMEENTELEWE WAAR CHRISTUS SENTRAAL IS

Volgens die Nuwe Testament kan gemeentelewe nie losgemaak word van die lewe van Christus in die gelowige nie.  Alles wat ons nodig het is in Christus en ons gemeenskap met God en met mekaar is net outentiek en eg solank as wat dit vloei uit ons fokus op Christus en ons eenheid en gemeenskap met Hom.  Hy is die Hoof en ons is die liggaam en daardie organiese en geestelike eenheid is die basis van gemeentelewe.  

Daarom volg dit logies dat ‘n gemeente net gebou kan word vanuit ‘n absolute fokus op Christus ons Here.  Christus in ons is ons lewe volgens Kolossense 3 vers 4 en hierdie hemelse werklikheid is nie net bedoel vir die individu se genieting en opbouing nie, maar ook vir die gemeente.   Ons gemeenskap is in Christus.  Die alternatief is altyd ‘n samekoms rondom persoonlikhede, bedieninge, spesifieke leringe, en ‘n legio ander dinge wat die middelpunt is in so baie gemeentes reg oor die wêreld.  Ons eenheid volgens die Nuwe Testament is egter in Christus.   

Dit is net wanneer ons verstaan dat die ‘nuwe skepping’ die locus van ons gemeenskap is dat ons die wonder van gemeentelewe begin sien en waardeer en ontsnap uit sieldodende godsdienstradisies.  Die Christus-lewe is by uitstek bedoel om gedeel te word met die wat ook dieselfde oorsprong en identiteit het, kinders van God in Christus.  Wanneer ons dit verstaan kan ons aktief en intelligent saamwerk met God se doel in die heelal soos duidelik uitgespel in Efesiërs 2 verse 19 tot 22:

“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,  gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,  in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here,  in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees."


Wednesday 17 April 2024

SLAAN AG OP DIE EEN WAT IN ONS WOON EN WERK EN ONDER ONS WANDEL

As ons in die bedeling van die nuwe verbond leef waar die Gees van God direk op elke wedergebore mens se hart inwerk, kan dit vir ons reg wees om net woorde, aktiwiteite, liedere en preke op mekaar te stapel sonder om eers ‘n tydjie op God te wag?  Wat kan belangriker wees as om saam op God te wag wanneer ons ontmoet as Sy lewende tempel? 

“...Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.” 2 Kor. 6:16


Dit is tog God wat dinamies in ons werk wat vir Hóm welbehaaglik is (Flp. 2:13) in ons korporatiewe aanbidding as liggaam van Christus. 


Ons moet leer om mekaar net te bedien met die mate van innerlike genade wat ons direk van God ontvang soos wat ons op Hom wag.  O, hoe wonderlik is hierdie innerlike manier van aanbidding.  Dít is aanbidding in gees en waarheid, maar dit is vreemd vir die mens van die sintuie, die sielsmens wat nie werklik ag slaan op die dieper werking van God se Gees in die innerlike mens nie. 


Tragies genoeg is die meeste Christene vandag so gewoond aan uiterlike aktiwiteite en programme dat hulle nie in staat is om enige innerlike beweging van die Gees te onderskei nie.  En dit is nie, soos so baie dink, 'n kwessie van die gevoelens teenoor die verstand in godsdiens nie.  Die werk van die Gees in die gees van die mens (1 Kor. 2:11) is baie dieper as intellek, emosies, wilskrag, persoonlikheid of gawes.


Monday 1 April 2024

KEER JOU RUG OP VORMGODSDIENS EN OMHELS JOU NUWE LEWE IN CHRISTUS SONDER VOORBEHOUD

 Paulus gaan hier (Kolossense 2:16-23) voort om die gelowiges in Kolosse aan te spoor om vas te staan in die volheid van Christus, te midde van al die godsdiensfilosofieë en aktiwiteite van mense wat "nie aan die Hoof vashou nie" (v. 19). Hulle moet niemand toelaat om hulle te diskwalifiseer en hulle te beroof van die vreugde in Christus en ons erfenis in Hom nie. Hulle heiliging is gebaseer op hulle dood met Christus (3:3), nie op enige vorm van asketisme nie. Die vlees sal aan niks anders as die kruis toegee nie. Geen mate van uiterlike dissipline kan die kragtige begeertes van die vlees oorwin nie ((v.23) en geen uiterlike rituele, godsdienstigheid of "visioene" kan iets byvoeg tot wat ons reeds gratis en onverdiend in Christus ontvang het nie.

’n Dissipel van Jesus moenie toelaat dat enigiemand sy aandag aflei van sy posisie in en identifikasie met Christus nie. Ons moet vashou aan die Hoof en ons verheug in die vrug van Sy verlossingswerk. Ons moet alles wat ons nodig het in Hom alleen vind. Sekerlik moet ons gedissiplineerde lewens lei (1 Kor. 9:27), maar ons durf nie terugval op enige uiterlike dissipline óm vervulling te probeer vind nie.  Ons het dit reeds in Christus ontvang (Kol. 2:9-10).

"Dié wat die oorvloed van genade en die gawe van geregtigheid ontvang het, sal in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus." Romeine 5:17b

Volmaaktheid word in Christus alleen gevind. Ons moet eens vir altyd wegdraai van die skadus van die Ou Testament en die vervulde werklikhede in Christus omhels. Beklee jou met die waarheid dat jy volmaak is in Christus en in 'n sin "nie meer lewe in hierdie wêreld nie" (2:20)! Moenie toelaat dat enigiemand of enigiets jou geloof in die genoegsaamheid van Christus laat wankel nie! Omhels bewustelik die nuwe skeppingswerklikhede in Hom. Glo en bely volheid in Christus en laat toe dat die waarheid van jou nuwe posisie jou inlei in die ervaring van Christus soos wat Hy in jou gevorm word (Gal. 4:19) in die leefruimte van vaste geloof.

Thursday 28 March 2024

DIE KENNIS VAN VIER WESENSREALITEITE WAT BALANS BRING EN HANDHAAF IN DIE LEWE VAN ‘N DISSIPEL

“Ek is nog nie wat ek wil wees nie. Ek is ook nie wat ek gaan wees nie. Maar, prys die Here, ek is nie meer wat ek eens was nie.” Gloria Gaither


Daar is vier krities belangrike innerlike realiteite van ons lewe as dissipels wat ons gedurig in die oog moet hou as ons ‘n gesonde balans wil handhaaf in ‘n gevalle wêreld. 


Die eerste realiteit is dat ons reeds nuwe skeppings is in Christus en dat hierdie nuwe mens se lewe en identiteit eksklusief opgesluit is in die Persoon van Christus en gegrond is in die historiese werklikheid van Sy opstanding uit die dode. 


“Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Korinthiërs 5:17


“En julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Efesiërs 4:24


Saam met hierdie kosbare werklikheid moet ons vashou aan die waarheid van die toekomstige volle realisering van dit wat ons reeds is in Christus, met Sy wederkoms. Dit moet vir ons ‘n innerlike werklikheid wees wat deel uitmaak van ons identiteit in die hier-en-nou van ons lewens. 


“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” 1 Johannes 3:2


Hierdie waarheid is die vierde realiteit op die tydlyn van ons lewens en dit moet in geloof vasgehou word saam met die eerste realiteit. 


Tussen die eerste en die vierde realiteite is daar egter twee realiteite waarmee ons móét rekening hou, anders verloor ons balans. 


Die tweede realiteit is ons ononderbroke stryd met dit wat ons steeds is in onsself, dit wat die Bybel “die vlees” noem. 


“Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.” Galasiërs 5:17


Dissipels is soms verbaas as hulle “die vlees” sien manifesteer in hulleself of andere. Hoewel ons nie verskonings moet maak vir vleeslikheid nie, behoort ons nie verbaas te wees in die sin van “waar kom dit nou vandaan” nie. Dit was nog altyd daar en sal wees tot op die dag wat ons verheerlikte liggame kry. 


Dit bring ons by die derde realiteit, naamlik die potensiaal vir geestelike groei in hierdie lewe. 


“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” 2 Korinthiërs 3:18


“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Romeine 12:2


Alhoewel “die vlees” ‘n innerlike werklikheid is vir die dissipel, mag hy of sy nooit vrede maak met hierdie “vlees” nie. Daar is oorwinning vir ons in Christus. Daar is iets soos geestelike groei en geestelike volwassenheid. Dit beteken dat ek in die hier-en-nou reeds ‘n transformasie van my siel kan beleef. Christus word in hierdie proses ín my gevorm (Gal. 4:19) en ek word selfs in my persoonlikheid meer soos Jesus. Dit beteken egter nooit dat “die vlees” verander het nie en daarom moet ek steeds waak en bid en op my hoede wees. 


“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” 1 Korinthiërs 10:12


Om op te som kan ons dus sê dat die eerste en vierde wesensrealiteite van ‘n dissipel sy ware identiteit is, maar dat hy gedurig ook rekening moet hou met die tweede realiteit en hom deurentyd ernstig moet beywer om deur die Gees die derde realiteit toenemend verwerklik te sien in sy lewe. Dit is dan ook die groot teiken waarna alle dissipels moet mik in hierdie lewe. 


“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.” Filippense 3:12


Mag die Here ons insig gee in hierdie vier realiteite sodat ons gebalanseerd kan lewe as dissipels van Jesus en “die dinge kan onderskei wat regtig saakmaak” (Filippense 1:10).