Tuesday, 14 January 2014

DIE GROOT GENEESHEER VAN VERBRYSELDE HARTE

“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees.” Lukas 4:18

Hier in Lukas 4 maak Jesus, die Koning van die konings en die Prins van vrede, die wonderlike uitspraak dat Hy spesifiek gestuur is om mense met verbryselde harte te genees.  Die sondeval het die mens gedompel in die verwoestende siklus van sonde en dood.  Daar is soveel tragedie en hartseer in hierdie lewe.  Soveel stukkende lewens wat langs die pad lê.  Baie mense bevind hulleself in ‘n doodloopstraat en sien geen uitkoms na enige kant nie.  Party hou maar net uit en probeer deurdruk tot die einde toe.  Ander leef saam met moedeloosheid en verslaentheid soos ‘n metgesel waaraan mens al gewoond geraak het en wat jou oral vergesel.  Die genesing en hoop van die evangelie word egter gevind in die Één oor wie die evangelie gaan!   Hy is die groot geneesheer van verbryselde harte.  As jy voel jou hart is aan skerwe en daar is nie vir jou genesing nie, want dit voel of jy al alles probeer het en orals gaan aanklop het, raak net bietjie stil en dink mooi na oor wat Jesus sê van Sy eie roeping en koms na hierdie aarde.  Die evangelies is vol van kosbare verhale wat vertel hoe Jesus keer op keer die wat in oorgawe en geloof na Hom kom optel en genees en dan plaas op ‘n nuwe pad, altyd sáám met Hom.  Moenie die enigste Een wat jou werklik kan help as vanselfsprekend aanvaar en net sien as jou Verlosser wat jou sonde vergewe het en jou op die pad na die hemel geplaas het, maar wat jou nie kan help in die hier-en-nou van jou lewe nie.  Hy is ook die geneesheer van verbyselde harte.  Kry albei jou oë op Hom.  Hy is nog dieselfde Jesus wat hopeloosheid en moedeloosheid laat wyk die oomblik wat Hy met Goddelike heerskappy in ‘n situasie instap.  Duisternis kan nie bestaan waar Jesus heers nie!  Maak net seker dat jy heeltemal oorgee aan Hom en luister na Sý oplossings sonder om vir Hom te probeer voorskryf.

1 comment: