Wednesday, 8 January 2014

GELOOF IN GELOOF OF GELOOF IN GOD?

Daar is ‘n massiewe aanslag op Bybelse geloof in ons tyd, en hierdie aanslag kom nie uit die sekulêre wêreld nie maar van binne die kerk.  Bybelse geloof is geloof in God, nie geloof in geloof nie.  Ons geloof kan volgens die Bybel net in werklikheid sterker word namate ons in Christus meer sien van Gód se Vaderskap, karakter, liefde en betroubaarheid.  Derduisende gelowiges vandag het die leuen gesluk dat God van ons verwag om te visualiseer, “positief” te dink en “positief” te bely en dat ons sodoende ‘n realiteit kan skep op hierdie aarde wat God se wil ‘n werklikheid sal maak.  Volgens hierdie valse benadering staan God magteloos en wag dat óns outoriteit moet neem en begin dink en praat wat ons wil sien gebeur in ons lewens.  Sukses, gesondheid, finansies, of wat ek ookal nodig het lê binne my bereik as ek dit maar net lank genoeg visualiseer, bedink, en aanhou bely.  Dít is nie Christenskap nie, maar eerder “Christian Science”.  Skakel maar net die televisie aan op een van die godsdienskanale en jy sal hierdie leuen in een of ander vorm iewers in die meeste van die boodskappe vind.  Die waarheid is dat God die mens geskep het as ‘n afhanklike wese!  Jesus het na hierdie aarde gekom en aan ‘n kruis gesterf om ons terug te bring na ‘n plek van absolute afhanklikheid van God, nie om ons in ons eie droomwêreld te plaas waar óns God begin speel nie.  Jesus is dié Seun van God en Hy het gesê toe Hy op aarde was “die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so” (Jn. 5:19).  Daar is nog talle sulke stellings van afhanklikheid in die evangelie van Johannes waar Jesus, die Leidsman van ons geloof, vir ons demonstreer hoe ons veronderstel is om te leef op hierdie aarde.  Ware dissipels van Jesus groei in afhanklikheid van God, en hulle denke en woorde is in alles onderworpe aan die Vader se wil.  Die Vader soek ‘n gesindheid van afhanklikheid by ons.  Hy wil hê ons moet in verhouding leef met Hom.  Verhouding is die sleutelwoord!  Hierdie verhouding vind ons net in Christus.  Hy het eens en vir altyd vir ons kom wys dat net ‘n lewe van absolute afhanklikheid van die Vader en onderwerping aan Sý wil ‘n werklik geseënde lewe is.  “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Mt. 5:3).

No comments:

Post a Comment