Wednesday 28 January 2015

LEIERSKAP IN DIE LIG VAN CHRISTUS

“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” Matt. 5:16


Dit gebeur so maklik dat die wêreld se idees oor ‘n onderwerp insluip in die manier wat ons dink daaroor.  Leierskap is een van die areas waarin ons dikwels ongemerk ‘n vermenging van Bybelse en wêreldse idees handhaaf, met rampspoedige gevolge.  Jesus het die mees radikale invloed op die geskiedenis gehad, sonder dat Hy ooit ‘n formele posisie beklee het.  Sy leierskap het dus alles te doen gehad met sy Goddelike invloed.  Nuwe Testamentiese leierskap is op presies hierdie beginsel gebou.  Wanneer die lewe en karakter van Christus in ons gestalte kry, kán ons nie anders as om ‘n invloed op mense uit te oefen nie.  In daardie sin is ons dus almal leiers binne ‘n spesifieke invloedsfeer.  Die teendeel is egter ook waar.  As jy ‘n formele posisie van leierskap beklee, maar jy tree nie op in die karakter van Christus nie is jy nie besig om enigiemand te lei in die Bybelse sin van die woord nie.  Ongeag of ons dus bekend staan as ‘n “leier”, ‘n formele leierskap posisie beklee, of nie een van die twee nie, as ons reg dink oor leierskap sal ons besef dat die karakter van Christus deur ons áltyd ‘n invloed op ander het.   Miskien het die tyd aangebreek vir ons om die Nuwe Testament se radikale openbaring van leierskap in die lig van Christus te omhels en ons eie te maak.  Moenie jouself meet aan die wêreld se standaarde van leierskap nie.  Maak liewer seker dat die karakter van Christus gestalte vind in jou op al die terreine waar jy beweeg en dáárdie voorbeeld sal ‘n invloed hê wat ver bo jou verwagting kan uitkring, en dit alles vir Jesus se eer en die verheerliking van sý Naam. 

Monday 26 January 2015

HOE DEFINIEËR JÝ “LEWE IN OORVLOED”?

“…Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”  Joh. 10:10


Die frase “lewe en oorvloed” in Johannes 10 vers 10 is een van die mees bekende Bybelse frases in ons tyd, maar ongelukkig lees ons dit 90% van die tyd deur ons kulturele bril.  Dit word ook dan dikwels aan ons opgedis as God se stempel op ‘n aardse lewe van voorspoed op alle terreine.  Hoe sou ‘n dissipel van Jesus wat leef in haglike omstandighede en met die daaglikse gevaar van vervolging dan hierdie frase verstaan?  Dit kan tog nie net van toepassing wees op dissipels wat toegang het tot al die geriewe en voordele van ‘n goed ontwikkelde infrastruktuur en ‘n vervolgingsvrye omgewing nie.  As ons die frase interpreteer in die konteks van die boek Johannes sien ons ‘n heel ander prentjie.  Dan word dit glashelder duidelik dat Jesus praat van die soort lewe wat Hy geleef het in verhouding met sy Vader op hierdie aarde.  Jesus self het gesê dat Hy op hierdie aarde geen plek het “waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Luk. 9:58), maar tog was Sy ononderbroke verhouding met sy Vader vir Hom ‘n lewe van absolute oorvloed en blydskap.  Hy is die “deur van die skape” (10:7) wat hulle inlei na ‘n “ewige lewe” wat gekenmerk word deur ‘n intieme verhouding met die “enige waaragtige God” (17:3).  Jesus self is “ons lewe” (Kol. 3:4) en Hy gee vir ons toegang tot die hemelse lewe in verhouding met die Drie-Eenheid (Kol. 3:1-3), sodat ons daardie kwaliteit lewe en oorvloed enige plek, enige tyd, en onder enige omstandighede kan geniet.  Hoe definieër jý “lewe in oorvloed”?  Dink mooi oor jou antwoord, want die manier wat jy hierdie vraag antwoord bepaal die kwaliteit van jou lewe op hierdie aarde.

Thursday 22 January 2015

GENADE VAN BEGIN TOT EINDE

En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.” Rom. 11:6


Genade beteken, onder andere, dat God vir jou iets gee wat jy nie verdien het nie en nie voor gewerk het nie.  Ons is gered “uit genade” (Efes. 2:8), ons groei geestelik en word opgebou in Christus deur genade (Hand. 20:32), ons “dra vrug” deur genade (Kol. 1:6) en ons het hoop op ‘n ewigheid in die teenwoordigheid van God deur genade (2 Thes. 2:16).  Die lewe van dissipels van Jesus is genade van begin tot einde.  Die oomblik wat ons dit probeer verdien of uit eie krag werk om dit te verbeter of vermeerder neutraliseer ons, ironies genoeg, die krág van genade.  Genade is soos onbeperkte fondse wat iemand in jou bankrekening inbetaal het.  Trek wat jy nodig het en leef daaruit.  Geestelik gesproke ‘trek ons’ fondse uit hierdie rekening met die hand van geloof.   Kan dit werklik waar wees dat God my alles skenk “wat tot die lewe en die godsvrug dien” (2 Pet. 1:3) deur genade alleen?   Dit is wat die Bybel leer.  Jy mág dit maar glo.

Monday 19 January 2015

VREUGDE EN VRYHEID IS JOU VOORLAND

Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” Fil. 4:4


Ware vryheid vind ons net op die pad van vreugde in Jesus Christus. Hierdie twee loop altyd saam.  Wanneer ek albei my oë op Jesus het en ek al my vreugde in Hom vind, kan ek nie anders as om vry te wees van enigiets anders wat probeer om my te bind en van my ‘n slaaf te maak nie.  Ons is so aanmekaar gesit deur God dat ons harte net nooit tot rus kom voordat ons nie sien dat Jesus werklik totale bevrediging gee vir die wat op Sý liefde reageer het nie.  En net daar lê die sleutel tot ‘n lewe van toenemende vreugde en vryheid.  Die opdrag om ons altyd te “verbly in die Here” is nie bedoel om ‘n saak van vasbyt-en-deurdruk te wees nie.  Laasgenoemde is een van die grootste leuens van vormgodsdiens.  Ek vind my vreugde in Jesus wanneer ek Sy groot liefde vir my in die evangelie ontdek en dan gedurig my hart hou onder die invloed van daardie evangelie-liefde!  En die vryheid sal áltyd volg.  Sy liefde wen my liefde en die vryheid volg; salige genade-ketting en dis jou voorland in Jesus. Glo dit!

Thursday 15 January 2015

GEEN OORWINNING SONDER HÍERDIE GELOOF

"Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het..." Joh. 3:16

"Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het..." Rom. 8:32

"Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het." Rom. 8:37


As dissipels van Jesus omvat ons belydenis van geloof verskeie absoluut essensiële leerstellings.  In die praktyk is daar egter een wat in sy afwesigheid, of selfs net wanneer dit begin taan, onmíddellike gevolge het. Dit is as't ware die petrol in ons tenk. Wat is dit?  Die geloof dat God ons werklik liefhet. As dissipels glo ons dit, nie omdat ons altyd so voel of omdat ons omstandighede altyd so wonderlik is nie, maar omdat God sy eie Seun gegee het vir ons redding, heil, seën en ewige welsyn.  Ons is gered omdat ons geglo het dat God in die oorgee van sy Seun onomstootlike bewys gelewer het van sy liefde vir ons. Op presies dieselfde beginsel oorwin ons as dissipels van Jesus. Glo jy nog onwrikbaar dat God jou werklik liefhet?  Antwoord met jou hart. Daar is 'n groot verskil tussen verstandelike instemming met 'n stel feite en die kinderlike oortuiging van God se liefde diep in jou binneste wat jou dag-tot-dag anker en meer as oorwinnaar uit die stryd laat tree.

Thursday 8 January 2015

VERHOUDINGS IS BROOS EN BREEKBAAR: HANTEER VERSIGTIG!

“Maar julle byt en verskeur mekaar. Pas op dat julle mekaar nie heeltemal verslind nie!” Gal. 5:15 (NLV)


Dit is verstommend om te sien hoeveel instruksies daar in die Nuwe Testament is oor die manier wat ons mekaar moet hanteer.  God het ons gemaak en Hy is die Kenner van harte.  Hy weet dat ons harte broos en breekbaar  is en dat liefdeloosheid, disrespek, onbedagsaamheid en hardhandigheid ons verhoudings met mekaar ernstige skade kan berokken.  In Galasiërs 5 gaan Paulus sover om te sê dat ons mekaar heeltemal kan verslind en sodoende verwoes.  En hy praat met dissipels van Jesus!  Die onomstootlike waarheid oor verhoudings is dat as jy iemand anders verwoes jyself in die proses verwoes word.  Jy kan nie oor iemand anders se hart loop sonder om oor jou eie te loop nie.  Hoe lyk dit met jóú prioriteite?  Vir God is verhoudings primêr.  As daar in jou lewe ‘n vriendskap of huweliksverhouding is wat soos ‘n stukkende kruik aan skerwe lê deur liefdeloosheid, bring dit nederig en biddend vir God.  Hy alleen is die Hersteller van gebroke verhoudings.  Wees egter ook gereed om te doen wat Hy dan vir jou sê.  Hy kan en sál jou leer hoe om met ander se harte te werk.  Sonder Hom is dit totaal onmoontlik en sal ons maar net weer verwoesting saai met ons gesindhede, woorde en dade.  Ware verhoudingsvaardigheid is menslik onmoontlik, maar deur die krag en wysheid van die Gees ís dit binne jou bereik.  Glo dit!