“En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit
die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die
werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer
nie.” Rom. 11:6
Genade beteken, onder andere, dat God vir jou iets
gee wat jy nie verdien het nie en nie voor gewerk het nie. Ons is gered “uit genade” (Efes. 2:8), ons
groei geestelik en word opgebou in Christus deur genade (Hand. 20:32), ons “dra
vrug” deur genade (Kol. 1:6) en ons het hoop op ‘n ewigheid in die
teenwoordigheid van God deur genade (2 Thes. 2:16). Die lewe van dissipels van Jesus is genade
van begin tot einde. Die oomblik wat ons
dit probeer verdien of uit eie krag werk om dit te verbeter of vermeerder
neutraliseer ons, ironies genoeg, die krág van genade. Genade is soos onbeperkte fondse wat iemand
in jou bankrekening inbetaal het. Trek
wat jy nodig het en leef daaruit.
Geestelik gesproke ‘trek ons’ fondse uit hierdie rekening met die hand van
geloof. Kan dit werklik waar wees dat God my alles
skenk “wat tot die lewe en die godsvrug dien” (2 Pet. 1:3) deur genade
alleen? Dit is wat die Bybel leer. Jy mág dit maar glo.
No comments:
Post a Comment