“…Ek
het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” Joh. 10:10
Die
frase “lewe en oorvloed” in Johannes 10 vers 10 is een van die mees bekende
Bybelse frases in ons tyd, maar ongelukkig lees ons dit 90% van die tyd deur
ons kulturele bril. Dit word ook dan dikwels
aan ons opgedis as God se stempel op ‘n aardse lewe van voorspoed op alle
terreine. Hoe sou ‘n dissipel van Jesus wat
leef in haglike omstandighede en met die daaglikse gevaar van vervolging dan
hierdie frase verstaan? Dit kan tog nie
net van toepassing wees op dissipels wat toegang het tot al die geriewe en
voordele van ‘n goed ontwikkelde infrastruktuur en ‘n vervolgingsvrye omgewing
nie. As ons die frase interpreteer in
die konteks van die boek Johannes sien ons ‘n heel ander prentjie. Dan word dit glashelder duidelik dat Jesus
praat van die soort lewe wat Hy geleef het in verhouding met sy Vader op
hierdie aarde. Jesus self het gesê dat
Hy op hierdie aarde geen plek het “waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Luk. 9:58),
maar tog was Sy ononderbroke verhouding met sy Vader vir Hom ‘n lewe van absolute
oorvloed en blydskap. Hy is die “deur
van die skape” (10:7) wat hulle inlei na ‘n “ewige lewe” wat gekenmerk word
deur ‘n intieme verhouding met die “enige waaragtige God” (17:3). Jesus self is “ons lewe” (Kol. 3:4) en Hy gee
vir ons toegang tot die hemelse lewe in verhouding met die Drie-Eenheid (Kol.
3:1-3), sodat ons daardie kwaliteit lewe en oorvloed enige plek, enige tyd, en
onder enige omstandighede kan geniet. Hoe
definieër jý “lewe in oorvloed”? Dink
mooi oor jou antwoord, want die manier wat jy hierdie vraag antwoord bepaal die
kwaliteit van jou lewe op hierdie aarde.
No comments:
Post a Comment