“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle
goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” Matt.
5:16
Dit gebeur so maklik dat die wêreld se idees oor ‘n
onderwerp insluip in die manier wat ons dink daaroor. Leierskap is een
van die areas waarin ons dikwels ongemerk ‘n vermenging van Bybelse en wêreldse
idees handhaaf, met rampspoedige gevolge. Jesus het die mees radikale
invloed op die geskiedenis gehad, sonder dat Hy ooit ‘n formele posisie beklee
het. Sy leierskap het dus alles te doen gehad met sy Goddelike
invloed. Nuwe Testamentiese leierskap is op presies hierdie beginsel
gebou. Wanneer die lewe en karakter van Christus in ons gestalte kry, kán
ons nie anders as om ‘n invloed op mense uit te oefen nie. In daardie sin
is ons dus almal leiers binne ‘n spesifieke invloedsfeer. Die teendeel is
egter ook waar. As jy ‘n formele posisie van leierskap beklee, maar jy
tree nie op in die karakter van Christus nie is jy nie besig om enigiemand te
lei in die Bybelse sin van die woord nie. Ongeag of ons dus bekend staan
as ‘n “leier”, ‘n formele leierskap posisie beklee, of nie een van die twee
nie, as ons reg dink oor leierskap sal ons besef dat die karakter van Christus
deur ons áltyd ‘n invloed op ander het. Miskien het die tyd
aangebreek vir ons om die Nuwe Testament se radikale openbaring van leierskap
in die lig van Christus te omhels en ons eie te maak. Moenie jouself meet
aan die wêreld se standaarde van leierskap nie. Maak liewer seker dat die
karakter van Christus gestalte vind in jou op al die terreine waar jy beweeg en
dáárdie voorbeeld sal ‘n invloed hê wat ver bo jou verwagting kan uitkring, en
dit alles vir Jesus se eer en die verheerliking van sý Naam.
No comments:
Post a Comment