Monday, 30 May 2016

"KENTUCKY FRIED CHURCH"


"Ons hoender is uniek. Niemand sal ooit beter hoender kan maak as ons Kolonel Sanders nie. Nando's sal nooit regtig met ons kan vergelyk nie."

Mensekinders is tog so lief vir 'franchising' en 'branding'. Ons wil ons eie unieke merk op iets plaas om dit, en ons, te onderskei van ander.  Om “in Christus” te wees en op sy Woord te staan is klaarblyklik nie genoeg nie.  Ons wil deel wees van iets groot, iets anders.   En as die denominasie 'franchise' nie meer vir ons werk nie dan soek ons, ons eie Protestantse Pous om ons te lei en vir ons 'n wonderlike netwerk van multilokale gemeentes (multisite churches) op die been te bring. Die Gemeente van Jesus Christus is nie ‘n kettingwinkel nie! Gemeenteleiers is ook nie Hoof Uitvoerende Beamptes nie.

"Ons apostel sal ons deur die drif trek." "Ons profeet of senior pastoor sal ons regdeur neem tot in Kanaän." Heeltemal reg, Hy sal. Mits sy naam Jesus is. Paulus het dit verstaan:

“Hom verkondig ons....” Kolossense 1:28

Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here…” 2 Kor. 4:5 

As jy "in Christus" is, ís jy deel van iets groot. Daar is niks groter nie. Al lyk dit op aarde klein en obskuur. Is jy bereid om Jesus alleen te volg saam met ander dissipels wat net in Sý naam roem?

“Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle.”  1 Kor. 3:21 

Of dring jy aan daarop om geassosieer te word met 'n bekende 'brand' (handelsmerk…ironies)? Sommige gaan eendag tot hulle skok ontdek dat hulle die 'franchise' en 'Kolonel Sanders' gevolg het en nie vir Jesus nie.

Terloops, daar is niks verkeerd daarmee om begaafde predikers en leraars in 'n gemeente te hê nie. Maak net seker dat jou fokus op Jesus is en dat jy kan onderskei wanneer die predikers en leraars begin om te “brand” en te “franchise”. 

Monday, 23 May 2016

JESUS SE VOETSPORE IN MY

Om te probeer volg in Jesus se voetspore met my eie krag en wysheid of natuurlike ywer en vermoëns is die mees absurde idee en poging denkbaar!  Dit is regtig soos die Engelse uitdrukking sê “a fool’s errand”.  Hoe kan ‘n mens ooit soos God wees of eers probeer om soos Hy te wees?  Ek kan net volg in Jesus se voetspore deur te let op Sy lewende “voetspore” in my.  Paulus laat géén ruimte vir enige ander siening oor die lewe van ‘n dissipel van Jesus nie:

“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”  Galasiërs 2:20


As hierdie vers in Galasiërs en soortgelykes in die Nuwe Testament vir jou obskuur, vaag en onverstaanbaar is, is jy ongetwyfeld nog aangewese op jou eie pogings om te “volg in Jesus se voetspore”.  Dit is ongelukkig nodig om dit so kategories te stel, want sonder hierdie waarheid leef ‘n mens op jou heel beste net ‘n godsdienstige self-lewe en nie ‘n bonatuurlike Christus-lewe nie.  Jesus leef in my en jou deur die wedergeboorte en dit is net in verhouding met Hom wat ons die ritme van Sy lewe in geloof begin optel en sodoende kan volg in Sy voetspore. Die lewe van ‘n dissipel is nie die Heilige Gees wat my help om soos Jesus te wees nie, maar eerder die Heilige Gees wat Christus in en deur my openbaar.

Wednesday, 18 May 2016

GOD HET FINAAL GESPREEK IN SY SEUN

Satan sal alles in sy vermoë doen om die klem weg te neem van Jesus af en dit op “goeie” dinge te plaas, maar dinge wat ons weglei van God se meesterplan.  2 Korintiërs 11:3 (Bybel in Afrikaans 1983/1992) sê immers:

“Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.”

Die grootste fout wat ’n dissipel of ’n gemeente ooit kan maak, is om Jesus as vanselfsprekend te aanvaar.

Jesus plus niks is gelyk aan alles, maar Jesus plus enigiets is gelyk aan niks!  Alles wat die Vader ooit vir ons wou gee, is in sy Seun.  In Hom alleen het ons die volheid (Kol 2:10).  In Hom alleen vind ons totale vervulling.  Die oomblik wat ons dink daar is iets ekstra wat ons uit onsself kan byvoeg om ons lewe as dissipels meer volkome te maak, val ons in die strik van die Satan en verloor ons die belewenis van die volheid wat ons in Jesus het.  In ‘n sin is die geloofslewe net ‘n toenemende ontdekking van alles wat ons in Christus ontvang het met die wedergeboorte.

“Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.”  Heb. 1:1


God het finaal gespreek in sy Seun.

Tuesday, 17 May 2016

VORMGODSDIENS STAAN LYNREG IN JESUS SE PAD

"As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees." Johannes 8:36

"Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid." 2 Korinthiërs 3:17


Waar Jesus teenwoordig is en kans gegun word om mense se harte te bedien, sal daar altyd 'n atmosfeer van vryheid wees. Vormgodsdiens van watter aard ookal (gereformeerd, pinkster, charismaties, metodisties…) bring daarenteen omtrent sonder uitsondering 'n strak en koue of eentonige atmosfeer wat geestelike kreatiwiteit en vrye kommunikasie tussen mense inperk en aan bande lê. Baie van ons is van kleins af al so gekondisioneer om 'n erediens of ander samekoms van die gemeente met koue formaliteit te assosieer dat die heerlike vryheid en spontaneïteit in die vergaderings van dissipels van Jesus vir ons 'n totaal vreemde idee is. Dit is baie, baie hartseer en was nooit God se plan vir ons nie. Ons byeenkomste as nuutgemaakte kinders van God is veronderstel om 'n getuienis vir die wêreld te gee van hoe vrymakend en genesend menslike interaksie en bediening kan wees waar God werklik teenwoordig is en die Heilige Gees kan werk soos wat Hý wil in ons harte.

Thursday, 12 May 2016

DOMINEE-PASTOOR MOSES

Een van die kosbaarste, indien nie díe kosbaarste, voordele van die nuwe verbond is dat ons direkte toegang tot God het deur die bloed van Jesus en dat ons geen ander middelaars nodig het nie.

“Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.”  1 Timotheüs 2:5 

Elke ware dissipel van Jesus is ‘n priester wat daagliks voor God mag verskyn om in te tree vir mense by God.  Ons het onmiddellike toegang tot die heilige en geestelike realiteite in die ware tempel in die hemel.

“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom…” 1 Petrus 2:9a

Maar ongelukkig is die oeroue instink van die gevalle mens om sy verantwoordelikheid, en verstommende voorreg in hierdie geval, af te skuif op sogenaamde “spesiale geroepenes” steeds sterk teenwoordig in ons midde. 

 “En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die rokende berg bemerk, het die volk dit gesien en gebewe en op ‘n afstand bly staan. En hulle het vir Moses gesê: Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons.”  Eksodus 20:18-19 

Wat ‘n wonderlike seën om die Heilige Gees in en by jou te hê om jou persoonlik te leer elke keer wat jy die Bybel optel.  Ja sekerlik is daar leraars en predikers vir die gemeente gegee om ons te help om die kosbaarhede van die Skrif toenemend vir onsself te ontdek (Efes. 4:11), maar hulle was nooit bedoel om die Heilige Gees te vervang nie! 

Die dominee, pastoor, apostel of profeet gaan nie eendag in ons plek staan voor God nie en ons gemeente of denominasie gaan ook nie pa staan vir ons nie.  Jy gaan alleen daar staan en self verslag gee van jou eie lewe en verhouding met Jesus en omgang met die Bybel, of nie, op hierdie aarde. 

Want elkeen sal sy eie pak dra.” Galasiërs 6:5 


Laat ons baie seker maak dat ons geloof en wandel direk en persoonlik met Jesus is en nie met allerhande plaasvervangers nie.

Monday, 9 May 2016

GLO NOU, VOLG LATER…MISKIEN

Jesus is nie net ons Verlosser nie, Hy is ook ons Here.  Hy is altyd beide Verlosser en Here en Hy kan nie in sy Persoon verdeel word nie.  Is dit moontlik om in Hom te glo as Verlosser, maar Hom dan nie te volg as Here nie?  In Markus 10 is daar vir ons ‘n gebeurtenis opgeskryf wat die antwoord baie duidelik maak.

“En toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?”  Markus 10:17 

Let op dat hierdie man baie ywerig was om by Jesus uit te kom.  Hy “hardloop” na Jesus en hy “val op sy knieë” voor Hom.  As ons vandag iemand raakloop wat so ywerig is om van Jesus te hoor en wat die ewige lewe soek met so ‘n passie, wat sou ons vir hom sê?  Miskien iets soos: “Bid net hierdie gebed agter my aan…..Amen. Daar’s hy.  Jy’s nou ‘n Christen en nou moet jy aktief raak by ‘n kerk.”  Jesus sê antwoord is anders.  Lees self verse 18 tot 20.  Ons tel die teks op in vers 21:

“En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.” Markus 10:21 

Jesus het hierdie man “liefgekry”, maar dit het Hom nie weerhou daarvan om Sy vinger presies op die afgod in sy hart te lê nie. Verlossing is klaarblyklik meer as om net te glo dat Jesus die Verlosser is.  Dit behels ‘n wegdraai van sonde, ‘n geloof wat gekenmerk word deur ‘n radikale en opofferende liefde vir Jesus en ‘n lewenslange volg in die voetspore van Jesus.  Die prys was te hoog vir hierdie man.

“Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.”  Markus 10:22 


Miskien het hy later tot sy sinne gekom, maar ten minste is hy nie onder ‘n valse sekuriteit gebring nie.  Hy het duidelik verstaan wat Jesus van hom vra. Verstaan ons generasie? Of dink ons dit is moontlik om te glo en dan eers later te volg…of dalk glad nie?

Wednesday, 4 May 2016

DIE KONINKRYK VAN GOD WORD NIE GEBOU DEUR SLIMMES EN STERKES NIE

Hoekom het Jesus nie net Sy visier gestel op die slimmes en sterkes (finansieël, polities, ens.), hulle vinnig bymekaar gebring met briljante strategie en van daar af die invloed van Sy koninkryk uitgebou nie?  Sou die gesiene mense in die samelewing nie baie meer effektief gewees het as die spulletjie wat Hy as dissipels geroep het nie?  God dink anders as ons en Hy werk op ander maniere.

“Maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;  en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak.” 1 Korinthiërs 1:27-28 

Jesus het dit baie duidelik gemaak dat ons, hetsy slim, sterk of nie een van die twee nie; absoluut niks in die koninkryk kan uitrig sonder Sy wysheid en krag nie (Joh. 15:5).  In Johannes 6 vers 63 neem Hy alle grond vir enige vertroue op natuurlike vermoëns geheel en al onder ons voete uit met die volgende stelling:

“Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie…”


Miskien ís jy slim of sterk, of albei, en jy wil graag jou deel doen vir die uitbreiding van God se koninkryk.  Hoe nou gemaak?  Roep alle vertroue in jou eie kennis, wysheid, krag en posisie vaarwel toe en vertrou ten volle op die krag van Jesus deur die Gees.  Slegs dan kan jy begin om werk te doen in die koninkryk wat ewigheidswaarde het.  Daar is ‘n reuse klomp aktiwiteite en projekte in gemeentes wat gebore is uit mense se vaardigheid en bekwaamheid en wat net mooi niks te doen het met die inspirasie en krag van die Heilige Gees nie.  Dit is uit God se perspektief “hout, hooi en stoppels” (1 Kor. 3:12).

Tuesday, 3 May 2016

DIE TOETS VAN ROEM

Is dit nie verstommend hoe ons van kindsbeen af leer om onsself met ander te vergelyk sodat ons daardeur 'n sin vir ons eie waarde kan kry nie? Van ons voorskoolse klassies af regdeur tot in die ouetehuis is ons gedurig besig om vas te stel wie is die mooiste, die sterkste, die slimste, die vinnigste of die rykste. Elkeen probeer om bo ander uit te styg en ons kan mekaar soms so subtiel probeer beïndruk met ons prestasies of 'belangrikheid'. 

In sy briewe aan die gemeente in Korinthe gee Paulus twee opdragte wat 'n groot toets van ware dissipelskap is.

"Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle." 1 Korinthiërs 3:21

"Maar wie roem, moet in die Here roem." 2 Korinthiërs 10:17


Waarin roem jy? Wat beïndruk jou?