Om te probeer volg in Jesus se voetspore
met my eie krag en wysheid of natuurlike ywer en vermoëns is die mees absurde
idee en poging denkbaar! Dit is regtig
soos die Engelse uitdrukking sê “a fool’s errand”. Hoe kan ‘n mens ooit soos God wees of eers
probeer om soos Hy te wees? Ek kan net
volg in Jesus se voetspore deur te let op Sy lewende “voetspore” in my. Paulus laat géén ruimte vir enige ander
siening oor die lewe van ‘n dissipel van Jesus nie:
“Ek is met Christus gekruisig, en ék
leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe,
leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir
my oorgegee het.” Galasiërs 2:20
As hierdie vers in Galasiërs en
soortgelykes in die Nuwe Testament vir jou obskuur, vaag en onverstaanbaar is, is
jy ongetwyfeld nog aangewese op jou eie pogings om te “volg in Jesus se
voetspore”. Dit is ongelukkig nodig om
dit so kategories te stel, want sonder hierdie waarheid leef ‘n mens op jou
heel beste net ‘n godsdienstige self-lewe en nie ‘n bonatuurlike Christus-lewe
nie. Jesus leef in my en jou deur die
wedergeboorte en dit is net in verhouding met Hom wat ons die ritme van Sy lewe
in geloof begin optel en sodoende kan volg in Sy voetspore. Die lewe van ‘n
dissipel is nie die Heilige Gees wat my help om soos Jesus te wees nie, maar
eerder die Heilige Gees wat Christus in en deur my openbaar.
No comments:
Post a Comment