”Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my
eie geken." Johannes 10:14
Dissipelskap is bo alles 'n persoonlike verhouding met
Jesus. Ons geloof is ongetwyfeld gebaseer op Bybelse feite en leerstellings,
maar hierdie feite en leerstellings is almal geanker in die persoon van Jesus. Hy is die Een wat die Vader openbaar en Hy is
ook die Een wat doop met die Heilige Gees (Matt. 3:11). Die Godheid word dus net in Hom ontsluit en
dit gebeur net vir mense wat Hom persoonlik leer ken. Christenskap is ten diepste dissipelskap en
dissipelskap is nie 'n langafstand affêre nie.
Lees maar net aandagtig deur die evangelies en jy sal gou raaksien hoe
persoonlik Jesus werk met mense.
Daar is geen langafstand dissipels in die koninkryk
nie. Ons kan Hom nie ken via die
gemeente, die pastoor, die dominee, ons ouers se geloof, of net 'n
intellektuele erkenning van 'n geloofsbelydenis nie. Hulle kan help om Jesus aan ons harte te
openbaar, maar tensy ek persoonlik reageer op Jesus se roepstem is daar geen
dissipelskap nie en dan ook geen verlossing vir my nie. Maak baie seker dat jou geloof nie
tweedehands is nie en ook nie bloot intellektueel of verbaal nie.
No comments:
Post a Comment