"... laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook
op die aarde."
Mattheüs 6:10
Dit gons eintlik soos daar
vandag gepraat word oor die betekenis
van hierdie stelling in die model gebed van Mattheüs
6. Sommige glo dat Jesus hiermee
wou leer dat net soos daar byvoorbeeld geen siekte of gebrek in die hemel is
nie ons die Vader kan vra dat daar geen siekte of gebrek in ons lewe sal wees
nie. Die res van die Nuwe Testament gee
egter 'n ander prentjie en fokus baie meer op ons gééstelike oorwinning in
Christus te midde van gebrokenheid. Dit beteken natuurlik glad nie dat ons nie
kan bid vir genesing en wonderwerke nie. Dit is net nie die fokus van die Nuwe
Testament nie.
Daar is egter iets anders in hierdie stelling van Jesus wat ons maklik
mis en wat baie nader aan ons vel kom as 'n blote akademiese debat oor wat dit
presies beteken. Die wil van God kan nie
geskied op aarde sonder gewillige en bruikbare dissipels nie. Die wil van die Here is nie net iets wat ons
objektief voor kan vra terwyl ons self op 'n afstand bly staan nie. Die wil van
God moet déúr ons geskied. Wanneer ons
hierdie gebed bid moet ons bereid wees om self die mense te wees deur wie God
hierdie wil laat geskied op aarde. God
wil veral die karakter van Jesus deur ons vertoon aan 'n verlore wêreld. Ons moet daarom self die antwoord word op ons
gebed dat God se wil geskied. Maar is
ons gewillig en beskikbaar? Dit is die
vraag.
No comments:
Post a Comment