Met die vleeswording van Jesus 2 000 jaar gelede het die
koninkryk van God kragtig in ons tyd en ruimte 'n verskyning gemaak en van
daardie tyd af gaan die oproep uit na alle mense om hulle te bekeer en die
goeie nuus van verlossing persoonlik toe te eien. Die boodskap was nooit bedoel
om net 'n kaartjie hemel toe te wees wat ek eenmalig ontvang en daarna gaan ek
aan met 'n onverloste lewe nie. Ons is nie net gered om hemel toe te gaan nie,
maar om in die hier-en-nou van ons lewens die heerlikhede van die hemel te
begin beleef. As dissipels van Jesus is
ons lewens ook bedoel om 'n vertoonvenster te wees van die onsigbare
werklikheid van die hemel.
"Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n
berg lê, kan nie weggesteek word nie." Mattheüs 5:14
Aan die ander kant maak die Nuwe Testament dit ook baie
duidelik dat ons nie moet leef vír die tydelike nie, maar juis vanuit ons hoop
op 'n nuwe hemel en aarde heilig moet leef ín die tydelike. In die boek Handelinge sien ons verstommende
wonderwerke en deurbrake in die hier-en-nou, maar dit het nooit die apostels se
boodskap verander nie, dat ons uitgered word uit die teenwoordige bose wêreld
(Gal. 1:4) om voorberei te word vir 'n nuwe hemel en aarde. Ons belewenis van die "kragte van die
toekomstige wêreld" (Heb 6:5) is
nie bedoel om ons so gemaklik te maak op hierdie aarde dat ons, ons sig op die
nuwe hemel en aarde verloor nie. Maar
ons moet ook nie so gefokus wees op die ewigheid dat ons die kragtige werkinge
van die Heilige Gees in ons hede misken, of selfs ontken, nie. Ja, ons bly " bywoners en vreemdelinge" (1 Pet. 2:11) op
hierdie aarde, maar vreemdelinge met 'n verskil. Ons is mense wat kan getuig
van 'n verlossing van ons ou sondige lewe en ook van 'n God wat teenwoordig is
by ons en in ons in die hier-en-nou van ons lewens.
No comments:
Post a Comment