"Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag
gedood, ons is gereken as slagskape.Maar in al hierdie dinge is ons meer as
oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het." Romeine 8:36-37
Die oorwinning wat die evangelie vir dissipels van Jesus
bring, moet altyd gesien word in die lig van geloof, hoop en liefde. Hierdie
drie kwaliteite word so dikwels in die Nuwe Testament in 'n ryke verskeidenheid
van kontekste saamgeflans deur die apostels. As ons dit begin raaksien in
die Nuwe Testament gee dit vir ons verstommende insig oor die ware karakter van
'n dissipel se lewe op hierdie aarde.
Ons is geneig om vandag net binne die konteks van geloof aan
oorwinning te dink, want ons generasie is so intens gefokus op die hier-en-nou.
Wanneer ons egter die rykdom van die apostoliese gebruik van die terme geloof,
hoop en liefde m.b.t. 'n oorwinnende lewe vir onsself begin toe-eien, is ons
blydskap in die Here gewaarborg om eksponensieel toe te neem. Dan eers sien ons
hoe God se werke in die verlede, hede én toekoms sáámwerk om vir ons oorwinning
te bewerkstellig.
Paulus praat baie van geloof in die gedeelte van sy brief
voor Romeine 8 verse 18 tot 39, maar gaan kyk bietjie hoe hy ook liefde en hoop
hier laat saamvloei en dit die basis van ons oorwinning uitbeeld. Mag die
Heilige Gees ons almal se oë oopmaak om ons oorwinning in Christus in die
Bybelse konteks van geloof, hoop en liefde te sien.
No comments:
Post a Comment