Deur die wedergeboorte het ons deel geword van God die Vader se familie
en in hierdie familie het ons Vader een baie spesifieke oogmerk met sy kinders
se lewens. In Romeine 8 maak Paulus dit baie duidelik wat hierdie oogmerk is.
"Want die wat Hy
vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld
van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders." Romeine 8:29
Die Vader se konsekwente oogmerk met alles in ons lewens is om ons te
maak soos sy Seun Jesus. Alles wat ons
sien van Jesus se karakter in die vier evangelies is bedoel om vir ons 'n
voorbeeld te wees van wat die Vader beoog met ons lewens. Alles wat ons leer van Jesus se verhouding
met sy Vader (sien veral die evangelie van Johannes) is bedoel om ons op te
roep tot 'n soortgelyke verhouding met die Vader.
Wat is die hoë roeping van dissipelskap? Niks anders as om in jou
karakter meer en meer soos Jesus te word nie.
Dit gebeur deur ons eenheid met die lewe van Christus in ons en die
lering en bediening van die Heilige Gees.
Maar dit kan ook net gebeur as ons begin verstaan wat die Vader se doel
en plan met ons is en begin identifiseer met die karakter van Jesus in die
Skrif. Anders mik ons heeltyd vir die
verkeerde dinge en met al ons godsdiens en aktiwiteite bly ons karakter basies
onveranderd. Lees bietjie 1 Korinthiërs 13 verse 1 tot 3 in hierdie verband.