As 'n ware dissipel van Jesus 1 Korinthiërs 12 lees sonder vooroordeel
of agenda gaan die werklikheid van die gemeente as liggaam van Christus vir
seker radikale ingrepe maak in enige wanpersepsies oor gemeentelewe. Die volgende kort uittreksel van tekste is meer
as genoeg om hierdie stelling te staaf.
"Want ook die
liggaam is nie een lid nie, maar baie." 1 Korinthiërs 12:14
'n Pastoor of dominee kan nie 'n liggaam wees nie, maar is slegs een
lid van die liggaam. Die liggaam bestaan
uit baie lede en elkeen het 'n rol om te speel. 'n Mens se liggaam het ook nie "lede"
wat net een maal per week funksioneer nie.
Alle "lede" is voltyds in die liggaam. Daar is dus nie volgens die Bybel iets soos
deeltydse lede van die liggaam van Christus of dan deeltydse lidmate van 'n
gemeente nie. Daar is ook nie professionele lede wat net funksioneer omdat
hulle betaal word om te funksioneer nie.
Pastore en dominees, ongeag of hulle 'n salaris ontvang of nie, moet
soos enige ander lid van die liggaam funksioneer uit die lewe van die Gees
anders is hulle buite orde in die liggaam.
"Maar nou het God
elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het." 1 Korinthiërs 12:18
God bepaal ons elkeen se funksie in die liggaam en daar is nie een lid
sonder 'n funksie nie! Al is dit 'n pinkie. Daardie pinkie het net so 'n belangrike rol om
te vervul as enige ander lid van die liggaam.
"Maar julle is die
liggaam van Christus en lede afsonderlik." 1 Korinthiërs 12:27
Ons almal saam vorm die liggaam van Christus. Daar is 'n organiese eenheid tussen ons en
tog ook 'n diversiteit in gawes, bedieninge en funksies. Organisatoriese
eenheid kan nooit vergelyk word met die radikale geestelike werklikheid van ons
eenheid in Christus nie.
"Maar beywer julle
met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ‘n nog uitnemender weg." 1 Korinthiërs 12:31
Elke lid van die liggaam moet die belange van die hele liggaam op die
hart dra en streef daarna om die liggaam te bedien met die beste gawes tot
daardie lid se beskikking. Dit is
onmoontlik vir een of twee begaafde lede om die hele liggaam se funksies te
vervul. Dit verg 'n liggaam van voltydse
lede.
Besef jy dat jy as dissipel van Jesus deel is van 'n geestelike en
organiese liggaam, plaaslik en universeel?
Glo jy werklik dat jy 'n funksie en gawes ontvang het wat onontbeerlik
is vir die funksionering van die liggaam? Ons het dringend nodig om ons idees
oor gemeenskap en gemeentelewe te vorm vanuit die Bybelse openbaring van die
liggaam van Christus en nie volgens ander minderwaardige modelle of die wêreld
se standaarde nie.
No comments:
Post a Comment