Dit is een van die kosbaarste waarhede wat 'n mens ooit kan
ontdek om te besef dat God jou gedurig uitnooi om na alles te kyk vanuit Sy
perspektief. God wil ons lewens verander
deur vir ons te wys wat Hy sien en ons sodoende in te lei in 'n lewe van
oorwinning.
Ons het almal a.g.v. die sondeval 'n perspektief op die lewe
gekry wat deur die nou lens van ons eie-ek beskou word. So asof dit wat ons sien die enigste
werklikheid is. Ons verabsoluteer so
maklik ons eie perspektief en ons doen dit outomaties en instinktief.
Die Bybel is God se perspektief op die lewe en daarom moet
ons dit benader met 'n gedurige neerlê van ons eie perspektief. Solank as wat ons asemhaal, gaan ons daagliks
aanpassings van perspektief nodig hê.
Dit is wat die Bybel so 'n onontbeerlike en rewolusionêre boek
maak. As jy dit reg benader, gaan jy elke
slag weer verras word deur God se perspektief en as jy hierdie perspektief
omhels met neerlegging van jou eie gaan jy God in aksie sien in jou binnewêreld. Deur jou binnewêreld te verander, bring God
dan ook verandering in jou hele lewenswandel.
No comments:
Post a Comment