Die gees van die wêreld is self-handhawing ,
self-vertroue en onafhanklikheid. Daarteenoor
word dissipels van Jesus geroep om te lewe in absolute afhanklikheid van ons
hemelse Vader. Al ons vertroue moet
gedurig as't ware weggeskuif word van die self en op Christus in ons geplaas
word. Sonder Jesus kan ons niks doen
nie. Die opstandingskrag wat Hom uit die
dode opgewek het, is aan die werk in ons (Efes. 1:19-20).
Ons probleem is egter nie net onkunde oor
hierdie geestelike werklikheid nie, maar ook die geneigdheid in ons almal om
weer en weer terug te val op self-vertroue.
Hoe meer ons leer dat swakheid vir 'n dissipel van Jesus nie noodwendig 'n
nadeel is nie, maar 'n geleentheid vir die krag van God om deur ons te werk,
hoe meer sal ons die voetspore van die verrese Jesus in die detail van ons
lewens sien. Paulus het dit baie goed
verstaan. Kyk bietjie na hierdie
kragtige stelling wat hy maak in 2 Korinthiërs 12.
”Daarom
het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in
benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk." 2 Kor. 12:10
No comments:
Post a Comment