Ons sien vandag dat derduisende mense kerke regoor die
spektrum van denominasies en diverse groepe verlaat het en nog steeds
verlaat. In baie gevalle kan hierdie
"groot uittog" geregverdig word en is dit heeltemal verstaanbaar,
want die populêre kultuur het kerke oraloor binnegedring. Dit beteken kortliks dat gemeentelewe
grotendeels nie meer gaan oor die ware aanbidding van God "in gees en
waarheid" volgens die ewige en onfeilbare Woord nie, maar oor die vermaak
van die massas. Ware dissipels van Jesus
word nie gevoed deur hierdie "geestelike springmielies" en
"spookasem" nie en dit raak net eenvoudig ondraaglik vir hulle. Dan is daar duisende wat sê hulle ken
Christus, maar wat omtrent nooit die Bybel lees of regtig belang stel in die
inhoud nie. Diesulkes raak ook nie opgewonde oor gesamentlike aanbidding van
God en die intersessie van gelowiges of enigsins besorg oor verlore mense en
die uitbreiding van God se koninkryk nie.
Maar tog hou hulle vol dat hulle verloste mense is. Baie van hierdie mense is heel tevrede in
hedendaagse gemeentes, want die dienste is juis gerat om húlle te vermaak in
plaas van om die skape te voed! In
hierdie tragiese milieu het iemand tereg opgemerk dat baie gelowiges gemeentes
verlaat, nie omdat hulle hul geloof verloor het nie, maar omdat hulle hul
geloof wil behou.
Maar die gevolg is ongelukkig dat derduisende by hulle huise
sit en heel tevrede is met net die elektroniese kerk en bykans geen vorm van
lewende gemeenskap met ander dissipels het nie.
Ander sê weer "ek is lief vir Jesus, maar met die kerk wil ek niks
te doen hê nie; ek en Jesus is nou genoeg". 'n Groot deel van die probleem is dat ons
"kerk" begin sien het as 'n gebou, 'n prediker, musici en 'n diens op
'n bepaalde tyd volgens 'n bepaalde liturgie.
Daar is sekerlik plek vir daardie dinge, maar die wese van
"kerk" (die woord "gemeente" is beter) is die gemeenskap
van gelowiges in Christus d.m.v. die Woord, gebed en lofprysing. Ons het almal nodig om te bid vir die herstel
van ware gemeentelewe in dorpe en stede regoor ons land, maar wat doen ons
intussen? Sit ons net by ons huise en
kla onder mekaar oor die tragiese situasie?
As jy 'n nuwe hart het in Christus, 'n Bybel, 'n sangboek en
een of twee mede-gelowiges of gesinne, waarvoor wag jy? Jy het sekerlik nog steeds jou verhouding met
Jesus as jy Sy dissipel is? Maak 'n tyd, kom bymekaar, slaan net daai Bybel
oop, deel dit wat God vir jou gewys het, bid, sing, gebruik nagmaal..hoekom
nie? Wat is die verskoning? Jy het nie 'n gebou, 'n prediker of 'n
"spesiale diens" en musici nodig om dit te doen nie. Wat gaan jy vir God sê wanneer jy voor Hom
staan? "Daar was nie meer 'n
gemeente in my dorp wat getrou was aan U nie." Maar as jy die Bybel het, die Gees binne-in jou
en ander gelowiges rondom jou, het jy regtig 'n verskoning om nie net iewers te
begin om te lees, te bid en te sing saam met ander nie? Jesus is mos teenwoordig waar twee of drie in
Sy naam vergader? Waarvoor wag jy? Gaan lees bietjie Lukas 24 en let op watter
geseënde tyd net twee dissipels van Jesus saam met Hom gehad het!
N.S. Daar is ook meer aan gemeentelewe volgens die Nuwe
Testament en daarvoor kan en moet ons intree.
Die essensie van gemeentelewe is egter die gemeenskap van dissipels van
Jesus en daarvoor het jy reeds alles wat jy nodig het.
No comments:
Post a Comment