In 1 Korinthiërs
11 tot 14 reguleer Paulus met die apostoliese gesag wat God vir hom gegee het
die samekomste van die gemeente in Korinthe. Al het ons nie noodwendig dieselfde probleme in
ons samekomste as wat hulle gehad het nie geld die beginsels wat hier verwoord
is vir die samekomste van alle gemeentes in alle tye en alle kulture. Ek wil net een vers uit hierdie vier
hoofstukke vandag onder jou aandag bring.
"Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle
saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring
of ‘n uitlegging—laat alles tot stigting geskied." 1
Korinthiërs 14:26
Hier sien ons dat Paulus die punt wil maak dat alles wat in die
gemeente se samekomste gebeur tot stigting moet wees. Dit moet die gemeente opbou in Christus en
geestelike groei bevorder. Let op dat
dit die vierde keer is wat Paulus in hierdie hoofstuk die beginsel van
onderlinge "stigting" beklemtoon (sien verse 3, 5 en 12).
Voor hy egter weereens "stigting" beklemtoon, sien ons dat hy
'n aanname maak. Hy neem aan (beskou dit
as die abolute norm) dat al die gelowiges gereed is om deel te neem in die
samekoms van die heiliges..."wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm
of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging..".
Is dit vandag nog die norm in ons samekomste? Maak ons enigsins ruimte vir gelowiges om
deel te neem in ons dienste en kleingroepe met woord én lied?
Ons bely dat ons glo aan
die priesterskap van alle gelowiges onder 'n nuwe verbond (1 Pet. 2:9). Daardie belydenis beteken absoluut niks as
ons dit nie in die praktyk toepas nie.
Dan sou dit veel beter wees om liewer net te sê ons glo steeds dat 'n
spesiale, professionele priesterklas (pastore en dominees) verantwoordelik is
vir al die "stigting" wat plaasvind in ons samekomste. Ten minste is ons belydenis en praktyk dan in
ooreenstemming.
No comments:
Post a Comment