Genade is per Bybelse
definisie net beskikbaar vir die nederiges wat weet hoe afhanklik hulle van God
is.
"Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy
genade." Jakobus 4:6
Genade is nie meer genade as
'n mens dink jy verdien dit omdat jy intrinsieke waarde of enige kwaliteit in
jouself het wat God se genade as't ware aktiveer of Hom onder verpligting plaas
om dit vir jou te gee nie. Genade kan
net die onmiskenbare dankbare respons lewer in die hart van mense wat gesien het
dat hulle heeltemal verlore en onder God se oordeel is.
Verder bring die Bybelse verstaan van genade ons
nie net by gebrokenheid en dan geloof nie, maar dit bly ook deurgaans die bron
en impetus van ons lewe en groei as dissipels van Jesus. Daarom is dit so krities belangrik vir ons om
die genade-boodskap wat deur satan gekaap is te herwin. Ons het nodig om die hele spektrum van die genade-boodskap
te heroorweeg en te hersien. Van die manier
wat ons ongelowiges blootstel aan die evangelie van genade tot die volle werk van
genade in alle aspekte van die lewe van 'n dissipel.
In Handelinge 20 sê Paulus vir die ouderlinge
in Efese in effek dat dit slegs deur "die woord van sy genade" is wat
God alle dissipels opbou en 'n erfenis in die koninkryk gee.
"En nou, broeders,
dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle
op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes." Handelinge 20:32
Ons geestelike groei en oorwinning is volgens
hierdie en baie soortgelyke tekste totaal afhanklik van 'n suiwer verstaan van die
genade-boodskap van die evangelie. Kan
iets daarom meer dringend wees vir die gemeente van God as om die gekaapte
genade-boodskap te herwin?
No comments:
Post a Comment