Daar word vandag baie gepraat oor die verkondiging van sogenaamde
"hyper-grace". Dit is 'n
boodskap wat klem lê op die genade van God en al die voorregte van verlossing
sonder om terselfdertyd ook die verantwoordelikhede van verlostes te
beklemtoon. Dit is inderdaad 'n groot
probleem in ons tyd, maar miskien is dit beter om te praat van "een-dimensionele
genade".
Genade is per definisie "hyper". Dit is amper onmoontlik om te
veel te maak van die openbaring van God se genade in Christus. Dit is iets wat ons vir alle ewigheid gaan
fassineer en vreugde verskaf. Die taal
van die Nuwe Testamentiese skrywers m.b.t. genade is asemrowend. Daarom moet ons so versigtig wees dat ons nie
opstaan teen sogenaamde "hyper-grace" en dan in die proses die Nuwe
Testament se verstommende openbaring van genade misken nie.
Die probleem met die verkondiging van een-dimensionele genade is dat
dit net bly by die eerste aspek van genade, naamlik ons stand in die
geregtigheid van Christus en die voorregte van kindskap wat daarmee
saamgaan. Die boodskap van genade is
egter bedoel om ons deur hierdie nuwe geregtigheid in Christus in te lei in 'n
heilige lewe en 'n konstante geestelike groei wat ons daaglikse lewens wesenlik
sal verander. Dit is dus nie net ons
stand in Christus wat afhanklik is van genade nie, maar ook ons wandel. Hier in Titus 2 maak Paulus dit baie duidelik
dat dit juis genade is wat ons leer om heilig te lewe.
"Want die reddende
genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede
te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe." Titus 2:11-12
Die antwoord is dus nie 'n wegbeweeg van die boodskap van genade nie,
maar liewer die volle prediking van genade met die oog op 'n heilige lewe en geestelike
volwassenheid.
No comments:
Post a Comment