Dit is baie duidelik in die
blaaie van die Nuwe Testament dat "die mens in Christus" se
geestelike sintuie met die wedergeboorte aangeskakel is. Dit is ook dan die
primêre rede waarom hierdie nuwe mens in Christus se belangstelling so radikaal
verskil van die ou mens in Adam. Jesus
het dit baie duidelik gemaak in Johannes 3 dat slegs mense wat wedergebore is
die koninkryk kan "sien".
Hierdie "sien" het vanselfsprekend niks te doen met fisiese sig
nie.
”Jesus antwoord en
sê vir
hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan
hy die koninkryk van God nie sien nie." Johannes
3:3
Verder kan slegs hierdie dissipels wat weer gebore is Jesus
se stem hoor in die Skrif en Hom dan in alles leer gehoorsaam.
"Ek het nog ander
skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal
na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder." Johannes 10:16
Die nuwe mens in Christus stel belang in die wese en persoon van God,
die koninkryk, die hemelse en ewige werklikhede, geregtigheid, heiligheid,
ensovoorts. Vir die ou mens in Adam is
al hierdie geestelike dinge vaag en dit interesseer hom nie werklik nie. Hy
stel baie meer belang in dit wat sy lewe op aarde kan verbeter en vir daardie
doel is hy dikwels bereid om sekere opofferings te maak, binne perke natuurlik. Veral as daar nog 'n assuransie vir die
ewigheid ook belowe word.
Die "ou mens" kan baie godsdienstig wees en selfs 'n
intellektuele of antikwariese belangstelling in die Bybel hê,
maar die soeke na verhouding met God en die begeerte om geestelik te groei laat
hom in werklikheid koud. Soms wonder
mens oor die soort "geestelike" lektuur en media boodskappe wat ons
generasie fassineer. In so 'n klimaat
raak dit juis soveel belangriker om seker te maak dat ons werklik die nuwe lewe
in Christus ontvang het wat net in die wedergeboorte aan ons geskenk word.
No comments:
Post a Comment