Die Bybel is lig. Die evangelie is lig. God se woorde is lig.
Jesus is lig. Maar sonder die innerlike opening
van jou oë deur die Heilige Gees beteken die lig absoluut niks vir jou nie,
selfs al is jy dag en nag besig met die lig.
'n Blinde mens kan heeldag in briljante sonlig staan en hy sien net mooi
niks nie. Hy is steeds in duisternis al is hy omring deur lig. Hoe weet jy dat
jy sig het en nie net lig nie? Sig gee jou krag om heilig te leef. Sig breek die mag van sonde. Verder bring sig altyd die gemanifesteerde
teenwoordigheid en heerlikheid van God in 'n lewe of in 'n gemeente.
As jy dus baie Bybelkennis (lig) het, maar sonder geestelike sig is jy eintlik
op 'n gevaarlike plek. Die grootste openbaring en gesondste teologie denkbaar
kan geen verskil in jou lewe maak as jy nie sig het nie. Interessant genoeg gaan dit dus in die finale
analise nie eers net oor kopkennis versus wat ons noem openbaringskennis nie,
want die vraag bly altyd of jy geestelike sig het wat daardie kennis of
openbaring kan omsit in krag en heerlikheid en die kennelike teenwoordigheid
van God.
Volgens Mattheüs 6:19-34 is ons afhanklikheid van "Mammon"
(die geldstelsel van die wêreld) een van die grootste redes hoekom Bybelkennis
dikwels geen werklike verskil in ons lewens maak nie. M.a.w. jou
vertroue het nog nie geskuif van die natuurlike na die geestelike
nie. Besitreg kelder jou. Jy hou nog vas aan dinge op hierdie aarde en
daarom gee God jou nie hemelse sig nie.
Satan kom as 'n "engel van die lig" en
solank as wat ons nie sig het nie kan hy ons op allerhande dwaalspore laat
beland terwyl ons steeds dink ons is besig met waarheid, met die Bybel, met
Jesus. Daarom is dit krities belangrik
dat elkeen van ons na God gaan en Hom pertinent vra of ons onsself flous met al
die waarheid en kennis waarmee ons besig is.
Het ek werklik geestelike sig of mislei ek myself omdat ek so seker is
dat my greep op die lig gelyk is aan sig?
No comments:
Post a Comment