Die volgende
teksgedeeltes maak dit baie duidelik dat geestelike sig 'n bonatuurlike
werklikheid is. Net God kan mense se oë
oopmaak om die heerlikheid van die evangelie te sien. Aan die ander kant doen satan alles in sy
vermoë om mense blind te hou vir die waarheid van die evangelie.
"Naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie
wêreld die sinne verblind het,
sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat
die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie." 2 Kor. 4:4
Hieruit kan mens sekerlik aflei dat God wil hê dat mense se geestelike
oë moet oopgaan sodat hulle die vreugdes van verlossing en gevolglik Sy
teenwoordigheid kan beleef. Daarom maak
Paulus dit dan ook duidelik dat dit God is wat as't ware die lig in ons
binneste aangeskakel het sodat ons die geestelike inhoud van die boodskap
aangaande Jesus kan "sien".
Dit is dus baie meer (maar ook nooit minder nie let wel) as net 'n oortuiging
en gevolgtrekking wat ons met ons verstand by uitgekom het.
"Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte
geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van
God in die aangesig van Jesus Christus." 2 Kor. 4:6
Wat egter ook glashelder duidelik is as 'n mens ander teksgedeeltes oor
dieselfde onderwerp ondersoek, is dat God nooit mense se geestelike oë oopmaak
langs die weg van ongehoorsaamheid nie.
Daarom is dit ongelukkig ook tragies waar dat 'n mens baie godsdienstig
kan wees (soos die Jode van ouds) en gedurig besig met die Bybel, maar as jy
nie bereid is om die evangelie te gehoorsaam met 'n totale oorgawe aan Jesus
Christus nie bly jy geestelik blind en gevolglik ook verlore.
"En toe
hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie
woord gesê het,
naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders
gespreek en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad
nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie."
Handelinge 28:25-26
No comments:
Post a Comment