Wednesday, 29 November 2017

‘N GENERASIE WAT REIN IS IN SY EIE OË

'n Mens het die skrikwekkende vermoë om homself te flous en die rede daarvoor is dat die hart "bedrieglik is bo alle dinge" (Jer. 17:9).  Nie net kan jy jouself flous om te glo dat jy nie verlossing of 'n verlosser nodig het nie (die ongodsdienstige ongelowige), maar jy kan jouself ook bedrieg met ál jou godsdiens terwyl jy in werklikheid nog nooit aan die voet van die kruis gekniel het nie.

"Daar is ‘n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie, ‘n geslag wat rein is in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie. ‘n Geslag—hoe trots is sy oë, en hoe hoog is sy ooglede opgetrek!Spreuke 30:11-13

Hoeveel mense is daar in ons generasie wat byvoorbeeld op 'n vorm of werksaansoek sal invul dat hulle "Christen" is, maar hierdie "Christenskap" van hulle is alles op hulle eie terme.  Van die Heerskap van Jesus Christus weet hulle niks, of wil hulle liefs nie weet nie. 


Dit is so 'n generasie wat "rein is in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie".  So 'n generasie wat al die bewegings en geluide maak van "Christene", maar wat verstommend genoeg regkry om die eise van navolgenskap van Christus net eenvoudig te ignoreer of weg te redeneer. So 'n generasie wat niks wil weet van enige vorm van gesag nie en wat ouers en onderwysers nie eer of respekteer nie.  So 'n generasie wat steeds onder God se oordeel is en grootliks dwaal m.b.t. daardie feit.  Dit is 'n gevaarlike generasie, want die self-bedrog raak 'n kultuur en binne die kultuur 'n geestelike epidemie wat aansteeklik is.  Net God kan so 'n generasie se oë open.  Ons het nodig om baie ernstig te bid vir geopende oë.

Wednesday, 22 November 2017

LIEFDE IS DIE EINTLIKE LEERSKOOL VAN DIE LEWE

Daar is so baie dinge om te leer op aarde en met die internet en Google het ons maklike toegang tot 'n wêreld van inligting.   Een van die dinge wat ons egter instinktief oor voel dat dit 'n abstrakte onderwerp is wat nie werklik bestudeer kan word nie, is die liefde. Wat moet ons nou eintlik leer daarvan?  Dit is mos maklik om te verstaan, indien nie so maklik om uit te leef nie!

Die Nuwe Testament openbaar egter vir ons dat die liefde nog altyd die groot onderwerp was wat God wil hê ons moet proefondervindelik bestudeer en as't ware eksperts in word.  Ons moet nooit net in algemene terme en in die breë dink oor liefde nie.  Daarom word daar in die Nuwe Testament so ontsaglik baie detail vir ons gegee van hoe die liefde prakties lyk.  Ons word nie net deur God geleer dát ons moet liefhe nie, maar ook hoe ons moet liefhê. Hier is net enkele voorbeelde:

"Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen." Kolossense 3:12-13

"Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,  handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie." 1 Kor. 13:4-5 

'n Mens kan net werklik leer en ontvang as jy eers erken het dat jy níe weet nie.  Dit is eers wanneer ons nederig, gewillig en geduldig aanmeld by die Heilige Gees se leerskool van Goddelike liefde en verstaan dat dit die hoofvak is in God se universiteit van die lewe dat ons ware vordering begin maak op die pad van dissipelskap.  Wat is dissipelskap in wese anders as om te leer om lief te hê soos Jesus ons liefgehad het?  Ons studies oor die liefde begin en eindig by die kruis.

 " ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." Johannes 13:34 


Kom ons bly in ons harte kinders wat nog leer. Laat ons nooit dink ons is kenners van die liefde nie.  God self is ons Leermeester in hierdie eintlike leerskool van die lewe en terwyl jy nog asem in jou longe het, is die skool nog nie klaar nie.

Monday, 20 November 2017

NIEMAND KAN LIEFDE VERSTAAN SONDER DIE KRUIS NIE

Almal op aarde het 'n idee van liefde en ons dink dat ons weet wat dit is en hoe dit veronderstel is om te werk.  Die Bybel leer egter dat dit net via die kruisdood van Jesus is dat ons waarlik liefde kan verstaan en dat dit net die Heilige Gees is wat vir ons die dieptes van die liefde kan openbaar wat aan daardie kruis vir mense gedemonstreer is.

"En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom." 1 Johannes 4:16 

"Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het." 1 Johannes 4:19  (NAV)

Hierdie tekste in 1 Johannes maak dit baie duidelik dat ons net liefde reg kan verstaan en werklik kan uitleef wanneer ons verstaan wat aan die kruis gebeur het.  Daar het die Lam van God ons sondes gedra, die Onskuldige vir die skuldiges.  Boonop het Hy nie gesterf vir die wat Hom goedgesind was nie, maar vir ons wat in ons harte vyande van God was. D.w.s almal van ons.

"Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is." Romeine 5:10 

Daar is soveel hartseer in menseverhoudinge en ongeag ons aandeel aan al die pyn dink ons steeds so maklik dat óns die liefde reg verstaan en dat ander maar net moet sien wat ons sien, dan sal alles reg wees.  Die waarheid is dat ons álmal dwaal en 'n self-gerigte idee van liefde het TOTDAT die Heilige Gees vir ons begin openbaar wat werklik aan die kruis gebeur het.  Selfs vir ware dissipels van Jesus is dit nie 'n eenmalige gebeurtenis nie, maar veronderstel om 'n immer verdiepende openbaring en dan ervaring te wees. Op geen ander manier kan ons Goddelike liefde uitleef op 'n gevalle aarde nie.


"Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom." Jesaja 53:6  

Wednesday, 8 November 2017

NUWE SPRAAK IN CHRISTUS

Nuwe spraak is een van die vele geskenke van die evangelie. 

'Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei." Johannes 7:38 

Voor ons wedergeboorte was ons duisternis en het ons gepraat uit 'n bron van duisternis, naamlik die gevalle menslike hart .

"Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig." Efesiërs 5:8 

Ons daaglikse voertaal was godslastering, ongeloof, ondankbaarheid, vervloeking, veroordeling, bitterheid, leuens, skinder, growwe en kru woorde en grappe, ligsinnigheid, negatiewe kritiek, afbrekende spraak, verkleinering van ander, ensovoorts. Kortliks, woorde van die dood.


In Christus het daar vir ons 'n nuwe wêreld oopgegaan en kan ons nou in geloof ons nuwe spraak ontvang en daarin begin leef.  Dan word ons daaglikse voertaal lofprysing, dankbaarheid, seën, opbouende spraak, woorde van vergifnis, wysheid, nederigheid, reinheid, regverdigheid, waarheid, ensovoorts.  Kortliks, woorde van die lewe.  Hoe lyk dit met jou spraak?  Het jy al hierdie kosbare geskenk van die evangelie in geloof vir jouself toegeëien?  

Monday, 6 November 2017

WOORDE VAN WYSHEID UIT 'N NUWE BRON

Die Bybel het baie te sê oor die verskil tussen die wyse en die dwaas, veral in die boek Spreuke.  Hierdie gedeeltes is bedoel om vir ons 'n spieël te wees van ons eie kondisie sodat ons kan bepaal of ons lewe soos die wyse of die dwaas.  Een van die kenmerke van die wyse is dat sy woorde genesing bring en die regte pad vir ander aandui.

Dit is egter so maklik om vas te val in sekere patrone in ons lewe soos wat ons ouer word.  In ons reaksies op mense en omstandighede begin ons dan soms dink en praat soos "die dwaas" wat die Bybel van praat, selfs al is ons dalk werklik dissipels van Jesus. 

"Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing." Spreuke 12:18 

Die vraag is hoe kan ons losbreek van hierdie patrone en gewoontes?  In die Nuwe Testament sien ons dat Christus ons wysheid geword het (1 Kor. 1:30).  Ons het met die wedergeboorte 'n nuwe hart ontvang en nou word ons aangemoedig om te leef uit 'n nuwe bron.  Hierdie Bron is Christus self.  Hy is nou ons wysheid en lewe. 

"Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe." Spreuke 16:23 


As dit die hart van die wyse is wat dit vir hom moontlik maak om woorde van wysheid te spreek, is dit goeie nuus vir dissipels, want ons het nuwe harte in Christus ontvang. Prakties beteken dit egter ons moet wegdraai van die verkeerde bron (aangeleerde patrone en gewoontes) en in geloof begin leef uit die regte Bron. As jy nie onwrikbaar glo dat jy in Christus toegang het tot al die wysheid van Christus nie sal jy nooit die ou patrone en gewoontes kan afleer sodat jy woorde van wysheid kan spreek uit 'n nuwe Bron nie.