Ons kan die beste leerstelling en organisasie op aarde hê,
maar as ons nie dringend ons hele konsep van gemeentefunksionering verander nie
gaan ons nie werklik 'n betekenisvolle impak op gemeenskappe hê nie.
Die Nuwe Testament werk konsekwent met die verandering wat
begin in die hart van 'n indiwidu en van daar af wyer uitkring in al sy
verhoudings. Dit is die wese van die
dissipelskap-proses wat Jesus ons beveel het om te implementeer en na elke stam
en taal en nasie te neem. Die hele
korporatiewe konsep van gemeentelewe wat dit in lidmate se verstaan daarvan die
domein van leiers maak wat 'n suksesvolle organisasie moet bestuur en uitbrei,
is die doodsvonnis vir ware gemeentelewe.
Dit sal nooit in tien duisend jaar lei tot die lewenskragtige,
verhoudingsgebaseerde dinamiek van ware Nuwe Testamentiese gemeentes nie.
Ons het nodig om heeltemal weg te beweeg van daardie
prentjie en eerder kleiner te gaan, meer intiem, en meer verhoudings-gefokus.
Elkeen moet verstaan dat hy persoonlik verantwoordelik is vir die mense in sy
huis en in sy invloedsfeer. Dit is juis
hierdie dinamiek van Bybelse dissipelskap wat deur leiers geleer en gemodeleer
moet word. Dit is die eintlike bedieningswerk
van Nuwe Testamentiese leiers; om mense te leer om volle verantwoordelikheid te
neem vir hulle eie verhoudings. Nie om futiele
pogings aan te wend om 'n pseudo Christus vir almal te probeer wees nie. Laasgenoemde metodiek is fataal, verlammend,
oneffektief en sieldodend vir die indiwiduele gelowige. Dit is boonop oor
honderde jare bewys as die enkele grootste faktor wat ons weerhou daarvan om uit
te kom by die opwindende en kreatiewe gemeentelewe van die Nuwe Testament wat
die indiwidu dinamies ontsluit in sy unieke funksie met sy unieke gawes in sy
bepaalde invloedsfeer van God-gegewe verhoudings.
Jesus Christus maak 'n persoonlike appél op die hart van die
indiwidu en terwyl ons aanhou om korporatief-organisatories-leiergefokus in
plaas van indiwidueel-organies-verhoudingsgebaseerd te dink sal ons nooit
uitkom by die soort gemeenskap wat die Nuwe Testament 'n "liggaam" (liggaam
van Christus) noem nie. Wat dink
jy? Maak ek te veel van hierdie punt?