Wednesday, 7 February 2018

"INNIGE TEDERHEID": JY IS SEKER NIE ERNSTIG NIE!?

'As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is." Filippense 2:1 

Die wedergeboorte bring ons in 'n lewende eenheid met Christus en in hierdie eenheid met Hom is daar troos, vertroosting, Heilige Gees gemeenskap, innige tederheid en ontferming. Wow!  Wat 'n wonderlike vers.  Paulus stapel al hierdie verhoudingsvoordele "in Christus" op mekaar voordat hy in vers 2 die appél maak op die dissipels in Filippi om in harmonie en eenheid te leef met mekaar. M.a.w. om die waarheid van ons redding as't ware in geloof te verwerklik in die lief en leed van 'n gevalle wêreld met dikwels baie moelike verhoudingsituasies.

"Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin." Filippense 2:2 

Dink gou vir 'n oomblik oor net een van daardie wonderlike verlossingswerklikhede wat Paulus in vers een noem: "innige tederheid".  As ek nie geweet het daardie frase staan in die Bybel in die konteks van dissipels se verhouding met mekaar nie sou ek dit net in een, hoogstens twee, soort verhoudings op aarde geplaas het; die verhouding tussen 'n moeder en haar kind.  En dan miskien nog ook tussen 'n man en vrou wat lief is vir mekaar, veral in die beginfase van so 'n verhouding.  Paulus gebruik die frase egter onbeskaamd en sonder verduideliking of verskoning as die ononderbroke werklikheid van ons almal se verhouding met mekaar "in Christus".


Hoeveel van jou verhoudings met mede-gelowiges sal jy kan beskryf as dat dit gekenmerk word deur "innige tederheid"?  Ek dink nie ons sien vandag baie van hierdie hoë standaard van liefde in gemeentes, of selfs eers in gelowige families nie.  Mag die Heilige Gees hierdie verstommende waarheid van verhoudingsintimiteit "in Christus" vir ons 'n proefondervindelike werklikheid maak.  

No comments:

Post a Comment