Bybelse dissipelskap kan opgesom word in die volgende drie
punte. Toets jou dissipelskap hier.
·
dissipels van Jesus is eerstens mense wat so
oorweldig is deur die onverdiende liefde wat aan die kruis bewys is dat hulle
as't ware leef in verslawing aan Jesus en die Woord van die kruis (1 Kor. 1:18
en 2:2)
·
tweedens is dissipels mense wat as gevolg van
hierdie "heilige verslawing" nie meer vir hulleself leef nie, maar
vir "Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is" (2 Kor. 5:15) met
die doel om ook van ander mense dissipels te maak wat leef vanuit die
"heilige verslawing" van die Nuwe Testament
·
in die derde plek is dissipels mense wat deur
die liefde van Christus gedring word om almal in hulle invloedsfeer baie
spesifiek en intensioneel by die plek te bring waar hulle ook dissipelmakers
word.
Dissipelskap is daarom nooit 'n proses wat net stop by my
eie toewyding of selfs net by my eie snoesige groepie nie. Dit is per definisie 'n dinamiese proses wat
spring van een hart na 'n ander. As dit
stop by 'n indiwidu of by 'n groep en hulle die liefde wat God in Sy Seun aan
hulle bewys het net vir hulleself hou, is die stroombaan gebreek en die dinamiese
element geneutraliseer.
Ons word dus nie net geroep om dissipels te maak nie, maar
om dissipelmakers te maak. Bybelse
dissipelskap is die Goddelike proses wat in die hart van die Vader begin het en
wat dissipels maak wat weer dissipels maak wat dissipels maak.... Lewe jy in hierdie stroombaan van evangelie-liefde
wat doelgerig aangegee word na mense rondom jou of het die proses by jou
gestop? Net jy kan hierdie vraag eerlik
antwoord. Dit is so maklik om besig te
raak met dosyne programme en kerkaktiwiteite en steeds dissipelskap heeltemal
te mis. Derduisende leef vandag so. Jy
hoef nie. Raak intensioneel.
No comments:
Post a Comment