Daar is drie kanale wat moet oop wees in my hart vir die
liefde om 'n volle werk van genesing in my te doen en om sielsgesondheid te
verseker.
Ons spandeer so baie tyd, geld en energie aan so baie dinge
wat nie werklik waarde het nie. Die Bybel
maak dit baie duidelik dat dit net die unieke liefde van God is wat uiteindelik
betekenisvol is en waarde gee aan die mens se lewe op aarde en ook vir alle
ewigheid. Die vloei van hierdie liefde
van God in Christus werk as't ware via drie kanale in die menslike hart.
·
Eerstens moet ons die liefde van God
ontvang. Dit kan net gebeur as ons God
se diagnose van ons verlorenheid en verdorwenheid aanvaar en Hom dan toelaat om
Sy unieke kruisliefde aan ons deur-sonde-gebroke harte te bedien.
·
Tweedens moet ons leer hoe om hierdie liefde wat
ons onverdiend ontvang het vir ander te gee in die daaglikse handel, wandel en
hartseer van ons eie lewens. Ons almal
weet dat dit 'n bonatuurlike werk van God verg.
·
In die derde plek moet ons egter leer om ook liefde
van ander te ontvang. Dit is insgelyks
nie kinderspeletjies nie.
As hierdie drie kanale oop is in jou hart sal jy
onvermydelik 'n gesonde, volwasse en vrugbare mens word. Vra God om hierdie kanale wyd oop te maak in
jou hart; ontvang-gee-ontvang sonder onderbreking. Dit is voorwaar 'n wonderlike gebed om
spesifiek en intensioneel te bid vir jouself en vir jou gesin, vriende en
gemeente. Satan kan niks meer doen aan die liefde van God wat deur die
kruisdood van Jesus histories geopenbaar en geanker is nie, maar hy kan die
kanale in ons harte verstop om die vloei van kruisliefde te belemmer. Daarom moet ons bid!
No comments:
Post a Comment