Wednesday, 6 March 2019

BLYDSKAP IN DIE HERE ÍS GEHOORSAAMHEID


Ons het soms die idee dat gehoorsaamheid een ding is in 'n dissipel se lewe en blydskap 'n heel ander ding.  As ons egter let op die feit dat ons in die Nuwe Testament beveel word om ons te verbly in die Here ontvou daar vir ons 'n heel ander prentjie.

"Wees altyddeur bly." 1 Thes. 5:16 

"Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!" Filippense 4:4 

'n Mens kan in 'n sin sê dat blydskap in die Here die dissipel se eerste verantwoordelikheid is.  Hierdie blydskap lei dan tot verdere gehoorsaamheid in ons lewens en dit gee ons ook die krag om versoeking te weerstaan.  'n Dissipel sonder blydskap is 'n maklike teiken vir satan.

Maar hoe kan ons woorde soos beveel, gehoorsaam en verantwoordelikheid in dieselfde sin as blydskap gebruik?!  Evangelie blydskap is anders as blydskap wat omstandigheid-afhanklik is.  Evangelie blydskap is 'n bevel van God, omdat die inhoud van die genade boodskap so oorweldigend ryk is dat  onuitspreeklike blydskap die enigste logiese respons is. 

Kinderlike geloof in die volheid van Christus lei altyd tot hierdie blydskap.  Daarom is 'n gebrek aan blydskap niks anders nie as die ongehoorsaamheid van ongeloof (soos teenoor "geloofsgehoorsaamheid": Romeine 1 vers 5).  In hierdie konteks van die evangelie maak dit dus perfekte sin dat God ons kan beveel om bly te wees in Sy Seun.

No comments:

Post a Comment