Tuesday, 12 March 2019

DIE TOETSE IN DIE WOESTYN: VERTROUE


In ons verhouding met God is daar twee baie spesifieke sake wat getoets word, naamlik waar ons vertroue werklik is en dan in wie ons volkome vreugde vind.

"Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!" Sagaria 13:9 

Geen dissipel van Jesus kan die toetse "in die woestyn" vryspring nie. Ons kan nie vorder met die Here en begin om werklik 'n geestelike impak te hê op mense in ons invloedsfeer as ons nie eers die toetse in die woestyn deurgekom het nie.

Die generasie van Jode wat deur Moses uit Egipte uitgelei is, het die toetse in die woestyn gedop.  Hulle het gevrees en gemurmureer in plaas van om te vertrou op die liefde en sorg van die Here.

"En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie?" Numeri 14:3 

Niemand van daardie generasie het die Beloofde Land binne gegaan behalwe Josua en Kaleb nie.

"Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun." Numeri 14:30

"Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het." 1 Kor. 10:11 

Die Here lei dus elke dissipel van Hom as't ware die woestyn in om te sien wat werklik in ons harte aangaan.

"En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie." Deut. 8:2 

Wanneer die natuurlike steunpilare en krukke rondom jou weg geneem word, wie sal jy vertrou?  Is jou vertroue in finansies, mense, stelsels en strukture of stel jy werklik jou vertroue in die lewende God wat beloof het dat Hy jou nie sal begewe of verlaat nie?  Elke dissipel van Jesus kom een of ander tyd voor hierdie vraag te staan en daar is geen pad rondom dit nie. Die vraag moet voor God (Coram Deo) beantwoord word.

No comments:

Post a Comment