Wednesday, 13 March 2019

DIE TOETSE IN DIE WOESTYN: VREUGDE

Verlede keer het ons gesien dat die Israeliete nie die toets van ware vertroue in die woestyn geslaag het nie.  Hulle kon nie hulle sekuriteit in God vind nie.

Vandag kyk ons na die toets van vreugde in die Here.   Nie net verwag God van Sy kinders dat hulle sekuriteit in Hom moet wees nie, maar die wese van God vereis ook dat ons proefondervindelik volheid van vreugde in Hom sal vind.  In die eerste en laaste verse van Psalm 16 sien ons dat Dawid dit baie goed verstaan het.

 " ‘n Gedig van Dawid. Bewaar my, o God, want by U skuil ek." Psalm 16:1 

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalm 16:11 

Ongelukkig kon die Israeliete nie in die woestyn hierdie wonderlike plek van vreugde vind nie.  Hulle het terug verlang na die tydelike en onbevredigende vreugdes van die wêreld.

"En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe." Eksodus 16:3 

"Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel." Numeri 11:5 

Woorde alleen is nie genoeg nie.  Dit is in die woestyn wat ons ontdek of ons werklik glo dat God in beheer is van hierdie heelal en dat Hy die groot Voorsiener is wat alles en almal aan die lewe hou. 

Ons ontdek ook of ons harte werklik vreugde in Hóm vind wanneer daar nie aardse vermaak en bevrediging beskikbaar is nie.  Soms gaan ons deur sulke moeilike tye dat ons aptyt vir die wêreld se plesiere taan.  Dit is 'n goeie plek om te wees, mits ons dan die wonderlike geloofsontdekking maak dat daar totale en onbeskryflike vreugde te vind is in die Persoon van God.

"Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie." Psalm 73:25 


Geen dissipel van Jesus sal hierdie toets vryspring nie en die rede daarvoor is eenvoudig dat God in werklikheid die Algenoegsame Heerser van die heelal is wat volheid van vreugde bied vir almal wat Hom liefhet.  As ons dus sê ons staan in verhouding met Hom, moet dit in die realiteit van ons erváring van Hom bevestig word.  Die alternatief is vormgodsdiens en vormgodsdiens slaag nooit die toetse in die woestyn nie. Mag die Here ons genadig wees dat ons harte nie wanneer die toets kom in die hitte van die stryd wegdraai van die lewende God om sekuriteit en bevrediging in die tydelike en materiële te probeer vind nie. 

No comments:

Post a Comment