Monday, 18 March 2019

NEEM VERANTWOORDELIKHEID VIR JOU EIE GESIN


“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;  en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Deuteronomium 6:6-7 

In die moderne wêreld maak ons gebruik van professionele mense in elke sfeer van die lewe.  Ongelukkig het hierdie benadering tot die lewe (wat goed en reg is binne 'n sekere konteks) oorgespoel na die terrein van kinderopvoeding. Nie net verwag ons van pastore en dominees om ons eie geestelike lewe in stand te hou nie, maar ons steun ook op onderwysers en Sondagskoolonderwysers om verantwoordelikheid te neem vir ons kinders se geestelike lewe en ontwikkeling.  Dit is 'n reuse mistasting.

God verwag van elke ouer om persoonlik verantwoordelikheid te neem vir elke kind se geestelike lewe wanneer die kind klein is en om dan ook vir hulle te leer dat hulle sélf verantwoordelik is voor God vir hulle eie geestelike lewe wanneer hulle ouer is.  Om die waarheid te sê moet ouers hulle kinders al van kindsbeen af leer om hulle eie harte reg te bestuur voor die aangesig van God.

"Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe." Spreuke 4:23 

Onderwysers en Sondagskoolonderwysers kan hoogstens 'n aanvullende rol speel in hierdie verband. Hierdie is 'n baie ernstige saak en iets waaraan ouers dringend moet aandag gee.  Al hou mense ons nie noodwendig verantwoordelik in vandag se samelewing nie, hou God elke ouer sonder twyfel verantwoordelik vir hulle eie kinders se geestelike ontwikkeling.


Dit is net nodig om ook te sê dat wanneer jy alles gedoen het wat jy moontlik kon doen deur die leiding van die Heilige Gees dit steeds die kind is wat self moet reageer op die evangelie.  Daarvoor kan jy nie verantwoordelikheid dra nie, maar jy kan wel met dodelike erns bid vir jou kinders dat hulle harte reg sal reageer op die evangelie.

No comments:

Post a Comment