In 'n sin kan 'n
mens die hele Nuwe Testament opsom aan die hand van die titel van hierdie
dagstukkie. Vir seker gaan die Nuwe
Testament oor die aanbreek van die lank verwagte en geprofeteerde koninkryk met
die verskyning van die Koning (Mt. 3:2, 14:17), maar hierdie koninkryk word
verder uitgebrei deur die Koning se dissipels (Mt. 28:19 en Hand. 1:8). Daarom is dit so belangrik vir ons om baie
mooi te verstaan hoe presies die koninkryk vorder van die dag af dat die
Heilige Gees uitgestort is ongeveer twee duisend jaar gelede.
Christus aan my geopenbaar: Die
Heilige Gees openbaar eerstens aan ons die volmaakte verlossingswerk van Jesus
en die voorrang (pre-eminensie) wat Hy geniet in God se plan met skepping en
herskepping (Kol. 1:15-20). Ons kan sê
hierdie is 'n objektiewe openbaring van wie Jesus is; die onbeskryflike
heerlikheid van Sy Persoon en die dringende oproep tot 'n innerlike en totaal
eksklusiewe waardering van Hom.
Christus in my geopenbaar: Die openbaring van Christus wat ons hier na verwys is
meer as net die leerstellige waarheid dat Hy leef in elke ware dissipel (Rom.
8:9-11). Die openbaring wat ons hier van
praat, is hoogs subjektief en het te doen met die "vorming van Christus"
in ons (Gal. 4:19). Hy is die Môrester
wat opgaan ons harte (2 Pet. 1:19) sodat ons proefondervindelik saam met Paulus
kan getuig dat Hy lewend en kragtig werk in ons harte (Gal. 2:20; Fil. 1:21). Christus word egter nooit in ons openbaar
voordat ons nie as't ware oorrompel word en intensief begin fokus op Sy
pre-eminensie en volmaak afgehandelde verlossingswerk nie; d.w.s. Christus aan
ons geopenbaar.
Christus deur my geopenbaar: Die noodwendige gevolg van Christus in my
geopenbaar, is Christus deur my geopenbaar.
Die openbaring van Christus deur ons is niks anders nie as die natuur
van Jesus self wat gemanifesteer word in spontane verkondiging van die
evangelie (Jn. 7:38) en in bonatuurlike liefde (Gal. 5:22) wat maak dat die
wêreld kan hoor en sien dat Hy inderdaad die Here is.
Al drie hierdie
openbarings is bedoel om gelyktydig te funksioneer in die lewe van 'n
dissipel. Die Heilige Gees wil toenemend
vir ons wys hoe onbeskryflik en onvergelykbaar hierdie Jesus is wat in ons woon
en hoe volmaak Sy verlossing is. Hy wil
toenemend die lewe en natuur van Jesus in ons openbaar sodat ons organies en
subjektief in ons sielsdimensie verander kan word om gelykvormig te word aan
die beeld van Christus (2 Kor. 3:18).
Maar Hy wil ook
Jesus individueel én korporatief deur ons openbaar sodat mense kan getuig dat
daar 'n liefde in en deur ons werksaam is wat ver verhewe is bo enige menslike
idees van liefde (Jn. 13:35 en 1 Kor. 13).
No comments:
Post a Comment