Ons ken almal mense wat altyd onvergenoegd is. Dit asof hulle siele 'n "big black hole" is wat alles intrek en nooit teruggee nie.
"Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie!" Spreuke 30:15
Sulke mense het die wonderbaarlike vermoë om selfs 'n feestelike geleentheid te omskep in 'n beproewing. En tog leef die meeste van ons so iewers tussen vervulling en onvergenoegdheid. Wat het die Nuwe Testament hieroor te sê?
"Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God." 1 Korinthiërs 3:21-23
"Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle." 1 Thessalonicense 5:16-18
Ongeag jou omstandighede kan jy leef in vervulling omdat Jesus in Sy heerlike volheid in jou woon. Vervulling is 'n daaglikse geloofsbesluit. Vervulling is ook 'n opdrag in die Bybel.
Hierdie opdrag mag dalk vir jou so abstrak klink dat jy nie weet hoe om dit te gehoorsaam nie. Maar let op die woordjie "vervul". Dit ontsluit die vers. Die Heilige Gees stimuleer ons geloof in Jesus, veral via die Bybel, maar Hy reageer ook op ons geloof in Christus. Die oomblik wat ons glo wat Hy ons wil leer, nl. dat daar net in Christus volledige vervulling is, gee Hy vir ons die BELEWENIS van vervulling. Om vervul te wees met die Gees is dus om in geloof te reageer op Sy bediening aangaande die algenoegsame Jesus!
"Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig." Johannes 16:14
Miskien is daar verskeie dinge in jou lewe wat jou frustreer en is jou omstandighede ver van ideaal. Maar jy hoef nie in onvergenoegdheid te lééf nie! Luister in geloof na die Heilige Gees se boodskap oor totale vervulling in Jesus hier-en-nou en jy kan dadelik die grootste moontlike verandering in jou daaglikse lewe beleef.
Wat 'n reuse verskil tussen 'n vreugdevolle lewe vanuit vervulling en 'n lewe van onvergenoegdheid en murmurering. Nie net vir jouself nie, maar ook vir die mense rondom jou. Dit is 'n leuen dat vervuldheid net te vinde is in daai wonderlike, maar ontwykende stel omstandighede wat jy dalk al vir jare najaag. 'n Beter huis, beter motor, meer geld, beter liggaam, of beter man of vrou of kinders. Nee. Vervuldheid is 'n Persoon. Sy naam is Jesus.
No comments:
Post a Comment