Een van die belangrikste vrae wat ons ooit kan vra is wanneer ons assosiasie met Jesus begin het, want dit verhelder en verryk nie net ons kennis van onsself nie maar ook ons kennis van Jesus. Die antwoord op hierdie vraag los ten diepste die mens se identiteitsprobleem op. So wanneer het hierdie assosiasie begin?
- Was dit by die skepping van Adam?
- Was dit by die belofte van verlossing in Genesis
3 vers 15?
- Was dit in die vele profesieë oor Hom in die Ou Testament?
- Was dit by die vleeswording van Jesus?
- Was dit by sy kruisiging, of sy opstanding, of
toe Hy gaan sit het aan die regterhand van die Vader?
- Of was dit nog verder terug in die ewige verlede?
Een groep in die
kerk sê net sekere mense het 'n assosiasie met Jesus en daarom is hierdie mense
die uitverkorenes met wie Jesus eksklusief geassosieer het en steeds assosieer. Jesus het daarom ook net vir hulle gesterf en
die res het geen gronde vir assosiasie met Hom nie. 'n Mens kan nie help om dan te wonder na wie
se beeld en gelykenis hierdie hopeloses geskape is nie? Miskien moes Paulus dan eerder in Handelinge
17 vir die Atheners gesê het:
"Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan
ons. [D.w.s 'n sekere groep van ons]. Of
soos party van julle digters ook gesê het: ‘['n Klompie van] ons stam ook van
Hom af." Handelinge 17:28
'n Ander groep sê
dat daar geen assosiasie met Jesus is voor iemand nie kies vir Jesus deur in
Hom te glo nie. D.w.s. assosiasie met
Hom is alles van ons kant af. Sy dood en
opstanding was dus net historiese feite in die geskiedenis wat eers die mens in
die prentjie bring die dag wat hy glo.
'n Derde groep glo
dat alle mense op so 'n wyse met Jesus geassosieer is dat daardie assosiasie alle
mense in die hemel sal bring, ongeag of hulle glo in Hom of nie.
Ek glo dat die
Bybel leer ons assosiasie met Jesus het in die ewige verlede begin, dat Jesus
as't ware die bloudruk van die mens is en dat die mens vir hierdie rede geskep
is na Sy beeld en gelykenis. Dit is
hoekom Jesus vlees kon word en ons verlossing kon bewerkstellig as die "Seun
van die mens". Dit is ook die primêre
rede vir die identifikasie-taal ("saam met Hom") van die Nuwe
Testament. Dit is ook hoekom Hy kom bly
in elkeen wat in Hom glo en hoekom ons Sy bruid word wanneer ons glo. Want dit was van die begin af die Vader se
plan toe Hy die mens geskep het na die beeld van Sy Seun.
Om in Jesus te glo
beteken vir seker dat ek nodig het om te glo Hy is die beloofde Messias van die
Ou Testament en dat Hy gesterf het vir my sondes (1 Kor. 15:3) en opgestaan het
vir my regverdigmaking (Rom. 4:25). Alle dissipels glo addisioneel dat Hy die
Verlosser en die Here is wat weer sal kom om Sy kinders te kom haal.
Maar om in Jesus
te glo volgens die volle openbaring van die Nuwe Testament beteken ook dat ek
glo dat Hy alleen die waarheid is (en nog altyd was) oor die mens; oor alle
mense, nie net die wat in Hom glo nie.
"Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom
na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand
gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie." Johannes 1:9-10
Die groot hartseer en tragedie is dat party mense weier om hierdie assosiasie te erken en daarom sal diegene wat volhard in ongeloof vir ewig verwyder leef van hierdie Een wat alleen die geheimenis van menswees kan ontsluit.
"Naamlik die ongelowiges in wie die god van
hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie
van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou
skyn nie." 2 Korinthiërs 4:4
"In vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op
die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie
gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die
aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte." 2
Thessalonicense 1:8-9
As Jesus nie die
waarheid is oor ons lewens nie het ons nie veel van 'n evangelie nie. Die waarheid oor die mens is nie sy
gevallenheid nie. Dit ís waar en dit ís
die feite van die praktyk, maar DIE waarheid oor die mens se lewe en identiteit
word gevind in 'n Persoon en in ons ewige assosiasie met Hom. Sy naam is Jesus.
As jy dit glo
begin jy anders kyk na God, die mens, die val, verlossing, evangelisasie, die
Bybel en die lewe.
No comments:
Post a Comment