Die opstanding van Jesus uit die dode het alles op aarde vir altyd verander. Daarom is die sentrale tema van die boek Handelinge die opstanding van Jesus.
Ons is geneig om ons begrip van ons nuwe lewe in Christus te verskraal tot iets wat net betrekking het op die geestelike. Die realiteit is egter dat ons vanuit God se perspektief letterlik net lewe het a.g.v. die opstanding van Jesus.
"Wanneer
Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in
heerlikheid geopenbaar word." Kolossense
3:4
Christus ís ons lewe! Dit is nie net 'n mooi cliché wat ons op Sondae teenoor mekaar uitspreek nie.
Sonder die opstanding het ons geen hoop nie.
"As
daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.
En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs
ook julle geloof." 1 Korinthiërs
15:13-14
"Maar
dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan
beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie." 1
Korinthiërs 15:50
Paulus se stellings oor ons eenheid met Christus moet dus tot 'n groot mate verstaan word in die lig van die opstanding van Jesus.
"Ek
is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.
En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God
wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Galasiërs 2:20
"Want
vir my is die lewe Christus en die sterwe wins." Filippense 1:21
Ons "geloof in die Seun van God" is ten diepste geloof in Sy opstanding en dat hierdie opstandingslewe in ons onverganklik is.
"En
as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal
Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend
maak deur sy Gees wat in julle woon." Romeine 8:11
Daarom is ware geestelike groei altyd in die Nuwe Testament verbind aan 'n groeiende vertroue in die lewe van Christus in ons en dit staan direk teenoor 'n vertroue in ons eie lewenskrag, energie en vermoëns; ja selfs vertroue in ons eie fisiese lewe!
"Want
ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat
oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad
het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself
die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op
God wat die dode opwek." 2 Korinthiërs 1:8-9
Vir baie gelowiges vandag is die boodskap van Christus in ons wat ons enigste lewe is 'n soort van 'n opsionele ekstratjie by die boodskap oor vergifnis deur Sy bloed. Vir die gelowiges in die Nuwe Testament, wat geleef het in die werklikheid van gedurige vervolging, was dit die enigste boodskap van hoop en die mees kosbare waarheid denkbaar.
No comments:
Post a Comment