Voel jy soos 'n ellendige mislukking as 'n dissipel van Jesus? Moenie alleen voel nie en moenie te gou moed opgee nie.
As die Bybel sê
dit hang nie af van "die een wat wil of van die een wat loop nie",
maar van die "barmhartigheid van God" (Rom. 9:16), dan volg dit
logies dat hierdie barmhartigheid gegee word aan ellendige mislukkings, nie aan
Christen superhelde nie.
Die radikale kontras
wat Paulus verder aan in dieselfde blok lering (Romeine 9 tot 11) stel tussen genade
en werke is werklik verstommend.
"En as dit deur genade is, dan is dit nie meer
uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die
werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer
nie." Romeine 11:6
Daar is geen
gronde vir roem in die lewe van dissipels nie.
"Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat
vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en
verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here
roem." 1 Korinthiërs 1:30-31
Dit is geen
probleem vir God as jy sê "ék kan nie". Inteendeel, dit is 'n voorvereiste vir barmhartigheid
en genade. Solank jy net nie in wanhoop
verval a.g.v. hierdie erkenning van jou eie onvermoë nie. Wanhoop sê in effek
"Gód kan nie". Daarom het F.W.
Myers gesê "God sal jou alles vergewe, behalwe jou wanhoop". Die Bybel sê honderde kere en in verskillende
kontekste vir ons "moenie vrees nie", "hou moed",
"wees sterk". Maar hoe moet ek
sterk wees?
"Eindelik, my broeders, word kragtig IN DIE HERE
en in die krag van SY STERKTE."
Efesiërs 6:10
Die
"positiwiteit" van die Bybel is 'n positiwiteit van geloof. Daar is 'n fyn lyn tussen die hedendaagse "positiewe
denke" benadering en die positiwiteit van bybelse geloof. Die
"positiewe denke" benadering sê "jy kan!" Die Bybel leer baie duidelik "jy kan
níe"! Niemand kan nie. Daarom juis die barmhartigheid wat vergifnis
skenk en die genade wat Christus in jou plaas sodat Hý die Christelike lewe in
en deur jou kan leef.
So dink nou weer
mooi en rustig oor Galasiërs 2 vers 20:
"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie
meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek
deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my
oorgegee het." Galasiërs 2:20
Net Christus in
jou kan die Christelike lewe leef. Dít is
ware Bybelse positiwiteit! Jy hoef nie
'n superheld te wees nie. Geloof en
kinderlike vertroue in Jesus en die evangelie het die potensiaal om jou
ellendige mislukkings te omskep in die oorwinning wat Christus in jou alleen
kan bewerkstellig. Wie jy is in Christus is inderwaarheid wie Hý is in
jou. As jy dit nie so verstaan nie word selfs
die lering van "wie ék is in Christus" 'n gevaarlike misleiding wat
jou weer terugplaas op die uiteindelik vernietigende pad van vertroue in
JOUSELF!
Moenie die duiwel
se leuens oor die oorwinningslewe sluk nie.
En daai leuens is volop in vandag se populêre prediking. "Nie ek
nie, maar Christus in my". Dít is
die antwoord. En dit is die enigste
antwoord.
No comments:
Post a Comment