"Julle is die sout van die aarde..." Mattheüs 5:13a
"Julle is die lig van die wêreld." Mattheüs 5:14a
Dit is verstommend dat Jesus vroeg in sy bediening al vir sy dissipels sê dat hulle die "sout van die aarde" en die "lig van die wêreld" is.
Hierdie dinge het Jesus nie vir sy dissipels gesê omdat hulle beter mense was as al die ander nie, maar juis omdat hulle deur Jesus te volg erken het dat hulle verlore was en dat Hy alleen hulle geregtigheid en hoop was.
In Johannes 8 vers 12 sê Jesus "Ek is die lig van die wêreld". In onsself het ons geen lig nie en as ons probeer lewe uit ons eie geregtigheid sal ons nooit sout of lig vir enigiemand kan wees nie (Rom. 10:2-4). Christus in ons is die sout en die lig wat hierdie wêreld so nodig het.
Dit is nie godsdienstige mense wat dink hulle is beter as ander wat die lig vir die wêreld kan bring nie, maar mense wat weet dat hulle niks in hulself het wat enige ander mens werklik kan help nie. Slegs mense wat 'n onwrikbare geloof in die meriete van Jesus se verlossingswerk en sý karakter en persoon het, kan sout en lig wees.
Wanneer gaan ons wegdraai van ons self-gerigte vormgodsdiens en besef dat net Christus in ons die antwoord vir die wêreld is. Dit is nie ons wilskrag, werke, kerke, programme of projekte wat die verskil sal maak nie, maar Jesus alleen.
Wanneer ons swak is in onsself is Hy in en deur ons die krag tot redding vir ander (2 Kor. 12:9-10). Wanneer ons niks is in onsself nie kan Hy alles in ons wees; d.w.s sout en lig vir 'n wêreld in duisternis en vol korrupsie.
No comments:
Post a Comment