Ek het 'n tannie gehad wat lief was om vir mense te vra: "glo jy wat jy glo"? Daarmee wou sy jou dieper laat dink en jou, indien nodig, skuif van bloot intellektuele en gemakstoel geloofsoortuigings na 'n vaste vertroue in die evangelie wat in staat sou wees om storms te weerstaan en oorwinnend aan die ander kant uit te kom.
"Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem
het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof,
soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging. Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer
deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die
mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie."
Kolossense 2:6-8
Die gelowiges in
Kolosse het begin om diep te gaan skep by ander fonteine van sogenaamde "wysheid"
om hulle geloof in Jesus as't ware aan te vul.
Paulus vermaan hulle om nie weg te beweeg van dit wat hulle aanvanklik
geglo en beleef het in Christus nie. Hulle moes eerder hulle geestelike wortels
dieper in Hom laat ingroei en toelaat dat die Heilige Gees hulle opbou op
daardie vaste fondasie.
Daar is so 'n
groot verskeidenheid lewensfilosofieë, wêreldbeskouings en boonop vals of
misplaaste teologieë wat die rondtes doen vandag dat ons meer as ooit vantevore
moet glo wat ons glo en staan waar ons staan.
Moenie dat
enigiets jou skuif of beweeg nie. Geen
ander lewensfilosofie het die kruis en opstanding van Jesus (historiese feite) as
fondasie nie. Jy kan maar jou volle
gewig en al jou omstandighede swaar laat leun op hierdie fondasie. Dit sal nooit maar nooit wankel nie. Hierdie fondasie is ook nie net 'n wêreldbeskouing
nie, dis 'n Persoon!
No comments:
Post a Comment