"Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus." Kolossense 2:16-17
Vormgodsdiens het
'n eindelose fassinering met skaduwees en uiterlike dinge. Die wortel van hierdie probleem is
waarskynlik die onvermoë om weg te kyk van jouself om die volkomenheid dan in
Christus te vind. Die boodskap van geloof
alleen is te eenvoudig vir jou. "Dit
kan nie so ongekompliseerd wees nie!"
Jy bly besig met
self-heiligingsprogramme en projekte om jou ervaring op standaard te
bring. Nog 'n ritueel, nog 'n liturgie,
nog 'n metodiek; hou net aan probeer en een of ander tyd gaan jy geestelike
vervulling en satisfaksie kry wanneer God uiteindelik tevrede is met jou diens
aan Hom (godsdiens!).
Daarteenoor, die
evangelie. God het alles kant en klaar
afgehandel in Sy Seun. God is tevrede
met Sy Seun. Sy Seun is die vervulling van alle skaduwees en tipes in die Ou
Testament. Wat bly oor? Geloof.
Glo jy dit of glo jy dit nie?
As jy werklik glo
dat Jesus genoeg is en dat jy verenig is met Sý volheid en volmaaktheid (Kol. 2:9-10),
sal al hierdie eksterne dinge van vormgodsdiens van jou afval soos herfsblare
van 'n boom. Dan eers sal jy begin
beleef wat die beteken om God in "gees en waarheid" te aanbid (Joh.
4:23) en om deel te hê aan die volmaakte verhouding tussen die Vader en die
Seun (Joh. 17:24; 1 Kor. 1:9).
"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging
van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalms
16:11
No comments:
Post a Comment