'n Geestelike rower is iemand wat nie die genoegsaamheid van Christus vir sy eie lewe aanvaar nie, maar dan gaan hy verder en beroof ook ander mense van hulle vreugde in die volheid van Christus (Kol. 2:9-10).
"Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al
sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy
nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike
gesindheid, en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die
gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met
goddelike groei groot word." Kolossense 2:18-19
Paulus gee vir die
gelowiges in Kolosse 'n opdrag om onder geen omstandighede toe te laat dat
enigiemand hulle beroof van die heerlikheid wat 'n eenvoudige geloof in Jesus
alleen (Jesus plus niks) bring nie.
"Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie,
tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly
met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap." 1 Petrus 1:8
Die nederigheid waarvan
daar in Kolossense 2 vers 18 gepraat word is natuurlik 'n valse nederigheid. In
die konteks verwys dit veral na die godsdienstige houding wat dissipels wat
staan op die vrymoedigheid waarmee ons God in Christus mag nader en die volheid
wat ons in Hom het, as trots en arrogant beskou. Hierdie godsdienstiges voel
dat hulle baie nederig is as hulle nie op die genoegsaamheid van die evangelie staan
nie, maar eerder op selfvernedering en 'n mistiese en ongedefinieërde
spiritualiteit wat fokus op engele en visioene.
Natuurlik moet ons
bely dat ons niks in onsself is nie, maar in Christus hét ons die volheid
ontvang. Dit is vaste grond onder ons
voete en ons hoef nie verskoning te vra daarvoor nie. Die ware arrogantes is diegene wat trots is
op hulle eie nederigheid en roem in hulle eie geestelikheid in plaas van op
Jesus en Sý verlossingswerk.
"Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in
die Here roem." 1 Korinthiërs 1:31
Daar is geweldig
baie geestelike intimidasie vandag. Moenie toelaat dat enigiemand jou
intimideer en "ongeestelik" laat voel omdat jy staan op die eenvoud
van geloof in Jesus nie (2 Kor. 11:2-3).
Vir seker moet ons nooit ophou om 'n dieper en dieper kennis van Jesus
na te jaag nie (Filippense 3:7-10), maar dit bly geloof van begin tot einde;
nie self-verbetering via mistisisme, ritualisme, wettisisme, askese
(asceticism) of enige kombinasie van die vier nie.
No comments:
Post a Comment