Ons moet vir ons kinders geloof leer, nie godsdiens nie. Daar is 'n reuse verskil tussen die twee. Ongelukkig is dit 'n verskil wat die meeste kerke en predikers vandag nie duidelik sien of verstaan nie en dit is so 'n belangrike saak dat dit 'n mens se hele Christelike lewe beïnvloed.
"Dit
hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig
is." Romeine 9:16
Godsdiens leer (subtiel of blatant) dit is ons wilskrag en ons strewe om goed te wees en goed te doen wat van ons goeie dissipels van Jesus maak. Godsdiens gebruik tekste uit konteks om hierdie benadering te rugsteun.
* Daarteenoor leer die Bybel dat God van ons verwag om te glo dat Hy barmhartig is en dat Hy volledig voorsiening maak (in Christus) vir die heilige en regverdige lewe wat ons moet leef op aarde.
"Wie
bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Romeine 11:35
Godsdiens leer dat ons goed moet wees en goeie dinge vir die Here moet doen ("wees mooi soet seuntjies en dogtertjies") en dan beloon Hy ons daarvoor.
Daarteenoor leer die Bybel dat God net geloof beloon, want geloof leef uit God se hand (Heb. 11:6). Geloof verstaan dat ons net kan ontvang van God (ons reageer op SY inisiatief), want alles is "uit Hom, deur Hom en tot Hom" (Romeine 9:36).
Geloof voel ook nie bedreig deur swakheid en gebrokenheid nie. Swakheid en gebrokenheid is nie 'n probleem as ons bly in afhanklikheid van God nie. Inteendeel, dit is wanneer ons swak is (in onsself) wat ons sterk is (in Christus).
"Daarom
is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter
wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk." 2 Korinthiërs 12:10
Miskien voel jy dit is nie regtig so belangrik nie. Dat al wat saak maak ons optrede is in hierdie wêreld. Dat die motief en oorsprong van ons gesindhede en dade grootliks irrelevant is. As dit jou siening is, misverstaan jy die Bybel se boodskap en is jy besig met godsdiens, nie geloof nie. God is die gewer en ons as mense die ontvangers. Dit is die oorkoepelende boodskap van die hele Bybel.
* Romeine 9 leer nie, myns insiens, dat God net lukraak barmhartig is teenoor sekere mense en nie teenoor andere nie. Dit leer eerder dat God se barmhartigheid nie beskikbaar is vir mense wat hulle lewe wil rig volgens hulle eie "wil" en "strewe" nie. Dit is eie-geregtigheid en God haat dit (9:13). Die konteks van Romeine 9 is die godsdienstige mens (histories hier die Jode) se hardkoppige weiering om te aanvaar dat God nooit tevrede sal wees met ons eie pogings tot geregtigheid nie (sien Romeine 10:1-4). Kain se gesindheid in Genesis 4 is waarskynlik die beste voorbeeld hiervan.
No comments:
Post a Comment