As ek na jou toe kom en ek sê: "Leef vanuit vervulling, nie ná vervulling nie", m.a.w. "wees vervuld" hier-en-nou, kan jy dalk antwoord dat ek nie jou lewe en omstandighede ken nie. "Hoe kan jy dit vir my sê as jy nie weet wat in my lewe aangaan nie?"
Die rede hoekom ons dit kan doen, is omdat ons die wynstok (Jesus) ken en weet wat die Bybel van Hóm sê. Ons identiteit is nie in die loot (onsself) nie, maar in die wynstok.
Jesus is volkome, die evangelie is volkome (kant-en-klaar) en daarom kan ons sê ons is volkome (vervuld) "in Hom".
"Want
in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid
in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag." Kolossense 2:9-10
"Ek
is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug;
want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5
Die loot se vervulling is nie in homself nie, maar in die wynstok. Die loot het onmiddellike toegang tot die volheid van die wynstok. Om in Jesus te "bly" is om in vervulling te bly. Dit is om gedurig te leef met die bewussyn dat jy in die wynstok is en dat jou identiteit en lewe net in hierdie wynstok te vinde is.
'n Loot wat eenkant lê en afgesny is van die wynstok het vir seker goeie rede om bekommerd te wees oor "sy omstandighede". Maar die evangelie verkondig dan juis ons verbintenis met Christus (die wynstok)! Tensy jy dit nie glo nie en dán het jy 'n groot probleem. Ongeloof laat die loot aan homself oor en omdat hy nie in homself lewe het nie gaan hy verdor en sterf.
"As
iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle
maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand." Johannes 15:6
Die hele Nuwe Testament roep ons op tot geloof! Geloof dat volheid en vervulling net in Jesus te vinde is en geloof dat die Vader ons voor die grondlegging van die wêreld uitverkies het om ons lewe en identiteit "in Hom" te vind (Efes. 1:4).
No comments:
Post a Comment