Die plan van God is nie net dat ons gered word en hemel toe gaan nie,
maar dat Sy heerlikheid in en deur ons gesien moet kan word in die hier en nou
van ons lewens! Dit kan net gebeur as
die lewe van God self bínne-in ons (Gal. 2:20) groei soos wat ‘n saad wortel
skiet en dan ‘n boom word wat vrug dra.
Ons vertroue moet radikaal wegskuif van ons eie pogings om soos Christus
te wees en dan enkelvoudig fokus op die Váder se verwagting, naamlik Christus
ín ons geopenbaar en gerealiseer deur die “goddelike groei” (Kol. 2:19) van dit
wat alreeds teenwoordig is binne-in ons.
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en
haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen
byt.” Gen. 3:15
“Nou is aan Abraham die beloftes
toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie,
maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.”
Gal. 3:16
“God het besluit om aan hulle bekend te maak
hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan
is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.” Kol. 1:27 (NAV)
Jesus het deur Sy kruisdood en
opstanding die satan oorwin en sy “kop vermorsel”, maar die Vader se
meesterplan was nog altyd dat die lewe van Sy Seun ín ons gestalte moet kry sodat Sy heerlikheid die aarde kan
vul. Daarom skryf Paulus in Romeine 5
vers 10 “want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die
dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen
is.” Die “onvernietigbare lewe” van God
(Heb. 7:16) is in ons deur die wedergeboorte, maar ons moet groei in daardie
lewe sodat daar ‘n realisering van die karakter van God kan wees in ons
daaglikse handel en wandel (Gal. 5:22).
Paulus sê vir die Christene in Galate hy is “in barensnood totdat
Christus in” hulle “‘n gestalte verkry” (Gal. 4:19).
No comments:
Post a Comment