"Nadat God baiekeer en
op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het
Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van
alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” Hebreërs 1:1-2
Die karakter van die Ou
Testamentiese openbaring word duidelik verklaar in ons teks. Dit was ‘n openbaring wat tot God se mense
gekom het in verskillende fragmente en stukke, soos ‘n legkaart wat stadig vorm
aanneem soos jy stuk vir stuk ontvang.
Op hierdie wyse het God verkies om verwagtinge in die mens wakker te
maak vir die volheid van Sy openbaring aan ons.
Al die profete en manne van God
in die Ou Testament het vooruitgesien na die volledige manifestasie waarvan
hulle tot op daardie tydstip slegs ‘n skadubeeld gesien het. En toe, in die volheid van die tyd, “het God
sy Seun uitgestuur” (Gal. 4:4). Die Vleeswording
van Christus het ‘n nuwe era ingelui.
Die ontwaking van ‘n nuwe dag in God se kalender het aangebreek en die
engele het van vreugde gejubel: "Eer
aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!’ (Luk. 2:14).
Híerdie openbaring van God was nie net nog ‘n diepsinnige waarheid
nie. Dit was nie net ‘n beginsel om
ywerig toegepas te word nie. Dit was
meer as ‘n diep profetiese insig. Dit
was eintlik nie iets nie, maar Iemand, naamlik die Seun van God Self! "Want
dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon" (Kol.
1:19). Die Ou Testament was ‘n skadubeeld - hierdie
was die realiteit. God het Homself aan
ons openbaar in die Persoon van sy Seun.
“En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade." (Joh.
1:16).
No comments:
Post a Comment